Local newsNews

Harte oop vir Huis Chrissanloo

Parys  Christelike Skool het 'n muntlegging ten bate van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) gehou, en is R1 600 asook 'n kinderklere-skenking vanoggend aan VVA oorhandig vir Chrissanloo - die VVA se Huis van Veiligheid vir kinders wat weens omstandighede uit ouerhuise verwyder moet word. 

In dié huis sal kinderlaggies gehoor word. Klein voetjies sal baljaar in die tuin en op klimrame. Dit sal ‘n veilige hawe wees vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe leer ken het, en wat weens mishandeling of verwaarlosing noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moes word.
Tot 78% van hierdie kinders kom uit huise waar daar dwelm- en drankverslawing is, en is blootgestel aan erge verwaarlosing en mishandeling. Dit ruk aan jou hart as jy die syfers sien.

Nege en dertig kinders, meestal Afrikaanssprekend, en waarvan die ouderdomme wissel van skaars twee uur oud tot 13 jaar, wat die afgelope finansiële jaar deur maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) uit ouerhuise in die Parys-gemeenskap verwyder is. Die vorige finansiële jaar was dit 64 kinders.

Met Huis Chrissanloo sal dié nood vir ‘n veilige tydelike heenkome vir hierdie kinders uiteindelik aangespreek kan word. Dit danksy ‘n skenking aan VVA van die Chris en Susan Prinsloo Trust waarmee die huis van veiligheid gekoop kon word.

Die huis is na die egpaar genoem, en is in April aan VVA oorhandig.

Aanbou- en herstelwerk vorder goed waarna die huis ingerig en beveilig moet word. Die mikpunt is om Huis Chrissanloo se deure moontlik reeds teen 1 Augustus te kan open sodra ‘n huismoeder gekry is.

Hoewel VVA al vir jare ‘n huis van veiligheid in die Tumahole-woonbuurt het wat met groot sukses bedryf word, het die nood ook vir ‘n Afrikaanssprekende Huis van Veiligheid die afgelope twee jaar ‘n ernstige behoefte in die Parys-gemeenskap geword, sê Sanette Boonzaier van VVA Parys.

Kinders wat uit hul ouerhuise verwyder moet word, sal hier geplaas word totdat hulle na hul ouerhuise of familie kan terugkeer, of oorgeplaas kan word na ‘n Jeugsorgsentrum, verduidelik sy.

Om vir hierdie kinders te kan voorsien is die ondersteuning van die gemeenskap juis nou baie nodig, om te help met die hoë koste van die herstelwerk en veranderinge, sodat dogters en seuns hier geakkommodeer kan word.

“Dit wat jy in jou huishouding nodig het gaan ons in die veiligheidshuis nodig hê.”

Ons het wonderlike donateurs en mense wat reeds ruim uit hul harte gegee het, vertel Sanette en André. Hiervoor is daar groot dankbaarheid, maar die nood vir die bedryf van beide veiligheidshuise is groot.

Huis Chrissanloo wat voortaan ‘n Huis van Veiligheid vir kinders in Parys sal wees.

Moenie weggooi nie – Huis Chrissanloo het dit nodig. Of dit ‘n skenking, geldelike hulp, jou tyd of jou gebede is, want vir hierdie kinders sal die huis ‘n tuiste wees, waar hul gekoester sal word. As jy kan help, skakel Sanette by 079 324 0603.

Geldelike skenkings kan inbetaal word by: VVA, FNB Besigheidsrekening, rekeningnomer 63090516065, gebruik die woord ‘veiligheidshuis’ as verwysing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button