Nog ysige koue kom
Hou maar reg jou jas - die weerdiens sê nog koue, wind en reën kom.

Vrystaters kan hulle maar regmaak vir nog koue wat die provinsie later die week gaan tref met aansienlik kouer temperature wat van Vrydag af, en oor die naweek gevoel sal word.
Die eerste kouefront sal na verwagting reeds Donderdag tref, gevolg deur ‘n frontale stelsel na die naweek se kant toe.
Die Weerdiens waarsku ook teen winderige toestande wat veral teen Vrydag in die oostelike dele van die Vrystaat sal voorkom, terwyl reën vir Donderdag vir groot dele van die Vrystaat voorspel is.
Vir Parys is ‘n koue 19 grade maksimum temperatuur vir Woensdag voorspel. Hoewel die temperatuur effe styg Donderdag na ‘n maksimum van 22 grade, kan reën te wagte wees.
Vrydag wag ‘n yskoue 14 grade maksimum temperatuur vir Parys met minimum temperature wat tot onder vriespunt sal draai oor die naweek.



