Kry jou Aardklop-feeskaartjies nou
Momentum Aardklop word vanjaar van 7-12 Oktober in Potchefstroom gehou.
Vanjaar se Momentum Aardklop-program bied ‘n volronde, veelsydige, veelvlakkige viering van die kunste in al sy fasette.
Enkelle van die hoogtepunte op vanjaar se feesprogram sluit in die produksie, NATANIËL + CHARL: 25, terwyl hulde gebring sal word aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters, Athol Fugard. Athol Fugard is in Maart vanjaar in die ouderdom van 92 jaar oorlede.
“Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.” Hierdie koproduksie geskied in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Belofte van vere bring op sy beurt hulde aan Breyten Breytenbach in ’n spesiale program met opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings. Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa – aan die hand van haar voorlesing vroeër vanjaar by haar pa se huldigingsbyeenkoms.
Van SA se voorste kunstenaars (onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen en Laurinda Hofmeyr) nooi die gehoor saam op reis om die beste te beleef van Breyten – die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”. Die artistieke regisseur is Anna Davel en die bekroonde Phillip Rademeyer behartig die spelleiding.
Verwelkingslied is op sy beurt die laaste toneelstuk uit Breytenbach se pen. Dit is kort voor sy dood verlede jaar voltooi, en opgedra aan onder andere Antoinette Kellermann, wat die rol van ’n ouer verhoogaktrise vertolk. Saam met haar is Dawid Minnaar, wat die rol van Breyten vertolk. Ouer teatergangers sal onthou dat Minnaar ook in die hoofrol van Breyten se heel eerste toneelstuk, Boklied, te sien was, wat in 1998 by die KKNK debuteer het. Die regie is behartig deur Marí Borstlap, en dit is ’n koproduksie tussen Momentum Aardklop en die Suidoosterfees. Dit het in April in die Kunstekaap-teater in Kaapstad debuteer, tot groot lof van kritici.
Momentum Aardklop 2025 bied komedie, drama, tragikomedie, musiek in bykans elke denkbare genre van klassiek tot voetestamp, en vermaak vir die jonger geslag. Daar is gesprekke, laatnagkuiers, kos te kus en te keur, tienertoneel, rondleidings en boeke vir Afrika. Daar is legendariese name, en nuwe name waarvan kennis geneem moet word. Daar word teruggekyk en vereer, en vorentoe gekyk en geïnnoveer.
Daar is motorsportgesprekke met onder andere Voetspore se Johan Badenhorst en renjaer Paige Lindenberg.
Vir feesterreingangers is daar onder andere Elandré, Die Heuwels Fantasties, Bernice West, Prime Circle en Die Piesangskille. Ricus Nel kom deel ’n hardekool, so laat die feesvure hoog brand! Onthou: wees liefs ’n Early B, en koop jou kaartjies gou.
Die volledige feesgids is nou beskikbaar by aardklop.co.za en koop kaartjies by Webtickets.
Kyk na die video hier:



