Hoe lank terug het jy na sekuriteit by jou huis gekyk?
Gereelde inspeksie van jou sekuriteitstelsels verseker nie net gemoedsrus nie, maar kan jou ook betyds waarsku sou daar probleme met jou sekuriteit by die huis wees.
Met die jaar halfpad verby, is dit ’n goeie tyd om te kyk of jou sekuriteitsmaatreëls by jou huis nog doeltreffend is. Wie weet – daar is dalk selfs goedkoper en meer effektiewe opsies beskikbaar sedert jy dit aanvanklik geïnstalleer het,” sê Charnel Hattingh, Groephoof van Kommunikasie en Bemarking by Fidelity Services Group.
Onlangse ekstreme weersomstandighede in dele van die land – soos swaar reënval in die Wes-Kaap en Oos-Kaap – maak hierdie fokus op instandhouding en toetsing selfs meer krities. Die reën en wind kon dalk komponente beskadig het wat buite en aan die elemente blootgestel is.
Hattingh sê die beste benadering is om jou residensiële eiendom buite te inspekteer en dan binne die huis. Let op die volgende:
-
Het enige struike of bome gegroei tot op ’n punt waar hulle buite-alarmsensors versper, of leun daar takke teen jou elektriese heining?
-
Toets die sluitmeganismes van alle buitedeure en -hekke, en maak seker dat jou hekmotor se battery nog werk. As jy ’n skuifhek het, verwyder los voorwerpe wat die hek se beweging kan blokkeer.
-
Is daar enige los items op die grasperk wat as hulpmiddels gebruik kan word om toegang tot jou huis te verkry – soos besems of tuingereedskap? Bêre dit eerder veilig weg.
-
Toets die alarmstelsel self. Reageer dit op beweging voor die binnenshuise of buitesensors? Skakel dit aan wanneer ’n deur of venster met ’n sensor oopgemaak word, en werk die battery nog behoorlik? Het jy jou sekuriteitsmaatskappy gevra om die stelsel te toets en te bevestig dat hulle alarmseine ontvang?
-
As jy ’n CCTV-stelsel gebruik, kyk of die kameras steeds in die regte rigting wys en dat hulle die areas monitor soos beplan.
“Hierdie eenvoudige en vinnige toetse kan jou gemoedsrus gee dat jou stelsel gereed is vir enige noodgeval. As jy enige vrae het, vra jou sekuriteitsmaatskappy om ’n tegnikus te stuur om dit vir jou na te gaan,” sê Hattingh.


