Sekuriteitswag se moordenaar vir 12 jaar agter tralies
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het na die vonnisoplegging, die vinnige reaksie van die gemeenskap en die toegewyde werk van die ondersoekspan geloof.

Die man wat ‘n veiligheidswag doodgeskiet, en ‘n boer van Fouriesburg gewond het, is vandag in die Bethlehemse landdroshof tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Thabo Tankiso Hlompho (29), ‘n burger van Lesotho, is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die tragiese voorval het op 12 Desember 2024 gebeur toe ‘n boer op sy CCTV-kameras gesien het hoe ‘n man sy eiendom onwettig betree. Hy het sy privaat sekuriteitsdiens in kennis gestel. ‘n Veiligheidswag, die 56-jarige Andrew Grant Turner, het op die oproep gereageer en die verdagte genader. Tydens die poging tot arrestasie het die beskuldigde die wag oorrompel, hom ontwapen en hom noodlottig gewond. Turner is op die toneel dood verklaar.
Die boer wat op sy kameras gesien het wat gebeur het onmiddelllik ander boere sowel as die plaaslike polisie in kennis gestel. Terwyl die beskuldigde probeer vlug het, het hy een van die reagerende boere in die been geskiet. Die gewonde boer is vir mediese behandeling na die hospitaal geneem.
Die oorblywende boere het daarin geslaag om die verdagte vas te trek, die gesteelde vuurwapen te herwin, en om hom aan die polisie oor te gee met hul aankoms.
Die ondersoek is gelei deur speurders van die Thabo Mofutsanyana-distrik. Hlompho het skuld beken.


