Local newsNews

Sinkgat-tragedie wat gesin en huiswerker se lewens eis onthou

Na die tragedie is ń gedenkplaat met die name van slagoffers en herinnering aan die tragiese gebeure op ń rots aangebring.

Carletonville is bekend vir sy goudmyne, maar baie inwoners van die dorp onthou ook die tragiese gebeure in 1964 toe ‘n sinkgat die lewens van ‘n gesin van vyf en hul huiswerker ge-eis het.

Die tragiese verhaal van die Ooshuizen-gesin word soos volg vertel deur Kobie Ströh op die Facebook-blad Monumente, Gedenktekens en ander Interessanthede in Suid-Afrika:

In 1937 is die Blyvooruitzight Myn gestig en so 6 km suid van Carletonville is die uitbreiding Westdene Blyvooruitzight gevestig om die mynwerkers te huisves.

Die Oosthuizen-gesin het in 29ste Laan nommer 10 gewoon.

Die 37-jarige Johannes Marthinus Oosthuizen het by die Blyvooruitzight Myn gewerk.

Op 2 Augustus 1964 keer die Oosthuizen-gesin keer  terug van ń heerlike vakansie by Amanzimtoti.

3 Augustus 1964

Die Oosthuizens se buurman het ‘n onrustige slapelose nag. Hy hoor ñ vreemde rammel geluid, staan op, loer deur venster na bure se huis, sien niks vreemds nie en drink ń glas water. Hy hoor weer die gerammel en skielik voor sy oë verdwyn die bure se huis in ń stofwolk. Al wat hy hoor is Hester Oosthuizen se wanhopige gil.

Die hele Oosthuizen gesin, Pa Johannes, Ma Hester, hul 3 kinders –  Jacoba (13), Johannes (8), Marianne (6) asook ń huiswerker en die gesin se huis het in die diep gat verdwyn.

Die gat het vinnig groter geword. Die wande het verbrokkel en ingeval, en rondom het die grond begin kraak.

Die bure het wanhopig gevlug. Party moes deur vensters ontsnap want die deure het vasgesit in die kosyne en kon nie oop nie.

Verstomde inwoners het gesien hoe dele van hulle huise in die gat inval en die een buurman se hele motorhuis verdwyn met motor en al.

Die gapende gat in die grond was ten minste 100 meter breed en minstens 20 meter diep.

Al wat van bo sigbaar was, was rooi grond en stukke huis, en van die inwoners se besittings.

Die grond was ook  heeltemal onstabiel en het bly instort wat reddingspogings onmoontlik gemaak het.

Die liggame van die Oosthuizen gesin kon nie herwin word nie en het begrawe gebly onder die hoop rooi grond.

Vrees het die hele woonbuurt  gepak en die inwoners het gevlug na veiliger grond – party  met net hulle klere aan hulle lywe. Ander het probeer om hulle huise te ontruim, maar hulle besittings moes hulle dra en met ń trollie vervoer want die grond was te onstabiel vir vragmotors en meubelwaens om nader te kom.

Alternatiewe blyplek moes vir minstens 170 gesinne gevind word. Woonwaens is gebruik, tydelike geboue opgerig en tente  opgeslaan by Blyvooruitzight se Ontspanningsentrum en by kerke.

Honderde nuuskieriges stroom van heinde en verre en noodsaak die sluit van alle toegangspaaie na Blyvooruitzight.

Die hele woonbuurt is toegekamp en die gat met klippe vanaf die myn opgevul. Die klip is met ń vervoerband vervoer tot naby die gat waarvandaan stootskrapers dit in die gat ingestoot het.

Nadat die gat beveilig is, is die hele Westdene woonbuurt platgestoot.

Wat was die oorsaak?

Die hele Westdene is in ń laagte op ñ dolomietformasie gebou, deel van die stelsel waarin die Sterkfonteingrotte is.

Ondergrondse water het ń groot gat uitgekalwe, ń ondergrondse meer, die Oberholzer-akwavir.

Die uitpomp van mynwater en water vir besproeiing het die meer leeggepomp en ń reuse gat of grot het ondergronds gebly.

Die bo-grond het gevolglik onstabiel geraak,  en die dak van die grot of gat het omverwags ingestort en ń reuse sinkgat gevorm.

Verskeie sinkgate het al in hierdie area ingeval.

Monument/Gedenkplaat

Op die heuwel is ń gedenkplaat met name van slagoffers en herinnering aan die tragiese gebeure op ń reuse rots aangebring.

Die monument kyk uit oor die area waar die woonbuurt was.

Die inskripsie lees: God het hulle self ter aarde bestel. 

Die gedenkklip wat na die Ooshuizen-gesin en hul huiswerker se dood opgerig is. Foto: Gys Ströh Sr, Desember 2021/Willes van der Westhuizen Facebook

Die Monument is verwaarloos en vergete, hoewel nie grootliks beskadig nie. Weerlig het kort na oprigting die klip raakgeslaan.

Bron: Internet. Eensgesind. Foto’s: Gys Ströh snr Desember 2021. Willes vd Westhuizen Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button