Local newsNews

‘n ‘Gentle soul’ groet stil

Corrie was vir 35 jaar in Parys gevestig waar hy gepraktiseer het by GC Cloete Accounting & Tax Services Inc

Dr Corrie Cloete, wat die afgelope 35 jaar as rekenmeester by sy praktyk, GC Cloete Accounting & Tax Services Inc in Parys gepraktiseer het, is Woensdag, vermoedelik aan ‘n hartaanval, in sy slaap oorlede. Hy was 67.

Corrie het nie net sy doktorgraad in rekeningkunde gehad nie, maar het ook onlangs sy LLB kwalifikasie verwerf, en is hy kort voor sy dood ook deur die Noordwes Universiteit genooi om sy doktorale studie in die regsveld aan die universiteit te kom doen, het sy vrou, Tersia gesê.

Hy was ‘n student by uitnemendheid sy lewe lank wat onder meer tydens sy studie ook lidmaatskap van die Golden Key International Honour Society ontvang het.

In 2018 is hy as wenner bekroon in die kategorie vir Rekenkundige tesisse vir Doktorale studie in die 2018 SAIPA-kompetisie. Met die kompetisie word uitstaande werk in die rekenkunde veld met doktorale tesisse beloon wat by universiteite regoor Suid-Afrika vir die jaar ontvang is.

Die tema van dr. Cloete se doktorsgraad-tesis was “The development of an SME risk analysis tool for professional accountants”. Hy het die tesis oorhandig aan die weermag wat ook ‘n rol gespeel het in sy studie.

Corrie is in Boksburg gebore en het aan Grey College in Bloemfontein begin skoolgaan. Later het sy ouers na Kemptonpark verhuis.

Tersia vertel dat hulle mekaar in hul skooldae by Hoërskool Jeugland ontmoet het. Na skool het hul paaie geskei met sy wat ‘n loopbaan in die onderwys gevolg het, en hy wat sy diensplig gan doen het.

Eers 20 jaar later het hulle mekaar weer op ‘n skoolblad raakgelees en was dit die begin van ‘n pad van 19 jaar wat hulle saam sou stap.

Corrie het hom in 1991 in Parys kom vestig nadat hy lank direkteur van finansies in die destydse Bophuthatswana regering was.

In Parys het hy sy eie rekenmeesterspraktyk geopen wat aanvanklik eers bekend was as GC Cloete & Vennote. Later het die praktyk naam verander na GC Cloete Accounting & Tax Services Inc. Van sy kliënte was vir 34 jaar by hom vandat die praktyk geopen is, maar sal dié praktyk nou weens sy afsterwe, sluit.

Corrie was ‘n ‘gentle soul’, nederig, en iemand wat ontsettend lief was vir sy kinders  en sy honde. Hy het ‘n passie gehad vir motorfietse, en was ‘n Pink Floyd fan. Iemand wat altyd sy bes probeer het om ander te help en die regte ding te doen. Hy het almal dieselfde behandel – ongeag hul sosiale of ekonomiese stand. 

“Hy was ‘n wonderllike man,” het sy vrou Tersia gesê. “‘n Ware gentleman wat rustig en stil gegaan het.”

Corrie se roudiens sal op 29 Augustus, wat ook Corrie en Tersia se 15de huweliksherdenkingsdag sou wees, vanuit die AGS Sion-gemeente in Parys gehou. Hy word oorleef deur Tersia, seuns Faan, Theo en Corné, dogter Carike, sy kleinkinders, ma Heleen, sy broers en suster.

Dr. Corrie Cloete (links) waar hy destyds die SAIPA toekenning in ontvangs geneem het as wenner van die kategorie vir rekenkundige tesisse vir Doktorale-studie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button