Dubbele podium-eer in Parys vir Toyota ná tawwe veldren-uitdaging
Eerste SARRC-oorwinning vir Saood Variawa en Francois Cazalet

Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika (TGRSA) se Saood Variawa en sy navigator, Francois Cazalet, het die naweek verras met ‘n eerste algehele oorwinning by die Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskap (SARRC) se dubbele veldren wat in Parys beslis is. Hoewel uitslae van Ronde 2 van die seisoen nog onder hersiening is, het die span van TGRSA geskitter met dubbele podiumposisies vir Ronde 3. Naas Variaw en Cazalet in die eerste posisie, was Guy Botteril en Oriol Mena algeheel derde.

Castrol NWM Ford se Gareth Woolridge en Boyd Dreyer het die tweede plek op die podium gevat.
Die veldrenaksie het talle besoekers na die Vrystaatse dorpie Parys aan die oewer van die Vaalrivier, gelok. Met die aangewese dienspunt en renhoofkwartier by Stonehenge River Lodge, moes deelnemers aan die dubbeldoor nasionale veldrenkampioenskap twee volle rondes met ’n algehele renafstand van byna 800 km die hoof bied. Elke ronde het ’n volledige reeks punte behels, wat die byeenkoms ’n deurslaggewende naweek in die kampioenskapstryd gemaak het.

Die terrein rondom Parys het soos verwag groot uitdaging ingehou vir renjaers, met ’n verrassende hoeveelheid diep water en modder, ten spyte daarvan dat die rennaweek in die middel van die Vrystaatse winter gehou is. Die weer was vriendelik met matige temperature en ligte wind. In die sneltrajekte was die aksie egter witwarm soos altyd en TGRSA was reg deur die rennaweek aan die voorpunt van die renveld.

Foto-erkenning: Toyota Gazoo Racing SA

“Dit was vir seker ’n moeilike naweek,” het die TGRSA-spanhoof, Shameer Variawa, ná die ren gesê. “Takties moes ons jaers hul motors vir Ronde 3 goed oppas, maar hulle het nie net daarin geslaag om in Ronde 2 sterk te eindig nie, maar ook die volgende dag dubbele podiumposisies verseker. Die span was onder groot druk om te verseker dat die motors vir albei dae ten volle voorbereid was. Dit is egter vir ons bekende terrein danksy ons deelname aan die Dakar-veldtydren en ons was uiteindelik baie in ons skik met die uitslae, het Variawa gesê.

Dubbele podiumvreugde vir Toyota Gazoo Racing SA se spanne na die naweek se veldrenaksie in Parys. Op die podium is ‘Saood Variawa en sy navigator, Francois Cazalet (eerste), Gareth Woolridge en Boyd Dreyer (tweede) en Guy Botteril en Oriol Mena algeheel derde

Hoewel die kampioenskapspunte nog amptelik opgetel moet word, is die span in afwagting op bevestiging van die uitslae van Ronde 2 en sonder twyfel in ’n sterk posisie vir die res van die seisoen.

Ronde 4 wat nuwe uitdagings vir die renjaers oor bergagtige terrein inhou, is volgende en sal op 19 en 20 September by die Louvain-gasteplaas naby George in die Wes-Kaap beslis word.



