Liggaam op plaas: Hof gee bejaarde borg
Brigadier Motantsi Makhele het vroeër gesê die polisie beskou die saak as baie ernstig, en is ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie toe te laat om hul ondersoek af te handel, en vir die gereg om sy gang te gaan.
Die 80-Jarige man van Kroonstad wat onder meer van moord aangekla is nadat die oorskot van ‘n liggaam op sy plaas langs die langs die Kroonstad/Welkom-pad gekry is, het Vrydag borgtog van R15 000 gekry. Hy sal weer op 9 Oktober in die Kroonstadse landdroshof verskyn saam met ‘n 17-jarige seun wat vroeër ook in verband met die saak in hegtenis geneem is. Die seun is vroeër in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Landdros Teseko Komane het beslis dat die bejaarde man nie met ander getuies in die saak mag kommunikeer nie.
Sy naam mag ook nie gepubliseer word nie, om die identiteit van die minderjarige te beskerm, het die hof beveel.
Die oorledene is intussen geïdentifiseer as die 25-jarige Thabo Mashiya van Lesotho. Mashiya is op 11 Julie as vermis aangemeld.
Sy liggaam is ontdek nadat ‘n taakspan van Bloemfontein inligting van die gemeenskap opgevolg het.
Die oorledene is na bewering op die plaas begrawe.
Die 80-jarige man is benewens die klag van moord ook aangekla van dwarsboming van die gereg waarop hy saam met die minderjarige tereg staan, asook klagte van poging tot moord, die rig van ‘n vuurwapen en die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar. Laasgenoemde drie klagtes hou verband met ‘n afsonderlike voorval in Augustus toe plaaswerkers die man genader het om in te gryp tydens ‘n huishoudelike rusie.



