Local newsNews

Energiebesparing bly die fokus

Staycold is een van Parys se oudste nywerhede en 'n suksesverhaal wat gebou is op kwaliteit en diens.

Tegnologie maak dit moontlik om vandag selfs oor ‘n afstand verkoelingstoestelle te beheer, en danksy slim tegnologie die maksimum energie te bespaar. Energiebesparing is nie net vir verbruikers ‘n groot oorweging met die aankoop van huishoudelike toestelle nie, maar ook ‘n belangrike oorweging om kompeterend in die kommersiële mark te kan wees, verduidelik Lena le Roux, besturende direkteur van Staycold International.

Staycold vervaardig die afgelope 46 jaar verkoelingstoestelle op sy perseel in die nywerheidsgebied van Parys, en het dié onderneming wat een van die oudste nywerhede in Parys is, sy onstaan te danke aan twee ambagsmanne – die een ‘n elektrisiën en die ander ‘n eletromeganiese tegnikus (millwright), wat in 1979 begin het om huishoudelike ys- en vrieskaste vanuit ‘n motorhuis te vervaardig.

Met Eskom wat daardie jare nog nie direkte lyne na al die plase gehad het nie, het Koos Badenhorst en Johan Roets die leemte in die mark gesien vir ‘n produk wat langer verkoeling sou gee wanneer krag nie beskikbaar is nie.

Die dikker wande van die yskaste wat hulle vervaardig het, was ‘n effektiewe teenvoeter vir kraglose ure. Hul onderneming het vinnig uitgebrei en is eers na ‘n perseel in Eerstelaan geskuif, en toe na die dorp se nywerheidsgebied. Van ‘n enkele gebou op die perseel waar die fabriek en klein kantoorblok ingerig was, het Staycold oor jare uitgebrei tot ‘n fabriek en kantoorblok wat 11 000/m² beslaan, en ‘n voltydse werksmag wat tussen 50 en 60 mense van ‘n inkomste voorsien.

In die laat tagtigerjare het die fokus van die huishoudelike mark na die kommersiële mark geskuif nadat Eskom met oorhoofse lyne ook kleiner boere voltyds van krag kon voorsien, en daar in die vraag van al meer botteliers soos SA Brouery voorsien moes word.

Vervaardigingsprosesse het ook meer gemeganiseerd geraak namate tegnologie verbeter het.

In 1998 was Staycold die eerste om ‘n geïsoleerde omgewingsvriendelike produk te registreer en te lys in Europa. Vandag is die Staycold naam sinoniem met waardetoevoeging vir besighede met ‘n stempel van kwaliteit.

Met sy grootste kliëntebasis in die drank- en gasvryheidsbedryf, is Staycold nie net gefokus op die Afrika-mark nie, maar ook in lande soos Engeland verskaffers vir van die bekendste botteliers.

Staycold was vanjaar weer deel van FRIGAIR 2025 – Afrika se grootste vertoonvenster van die nuutste energiebesparende en tegnologies gevorderde produkte in die mark vir verhitting, energie, verkoeling, ventilasie en lugversorging.

Voor regs is Lena le Roux, besturende direkteur van Staycold, saam met Staycold-ambassadeur, die bekende sjef, restauranteur, entrepreneur en TV-persoonlikheid, Bertus Basson, by FRIGAIR 2025.

Van die uitdagings wat nywerhede vandag het is menslike hulpbronne en statutêre regulasies, sê Lena wat sedert 2016 die leisels van dié trots Suid-Afrikaanse maatskappy, wat deel is van Universal Industries, stewig in haar hande vashou.

Staycold is een van die oudste nywerhede in Parys wat sy onstaan in 1979 gehad het.

Hoewel dit voortdurend ‘n uitdaging bly om ‘n onderneming lewensvatbaar te bedryf veral in die platteland in ‘n omgewing wat genadeloos is ten opsigte van infrastrukktuur, skryf Lena die Staycold-sukses toe aan die onderneming se bereidwilligheid om te belê in die opleiding van sy werksmag, en om die omgewing waarin jy funksioneer en jou kliënt se behoeftes te verstaan.

Die Staycold-fabriek in Parys se nywerheidsgebied.

“In besigheid moet jy respek hê vir mense en hul tyd, en ‘n diens kan lewer met absolute eerlikheid en deursigtigheid,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button