Munisipale verval: ‘Geen kitsoplossings, maar moenie terugsit’
Save Ngwathe het by die vergadering aan sy lede volledige terugvoer gegee oor verskeie diensleweringskwessies en wat die organisasie doen.
Probleme wat die Vrystaatse dorp Parys met gebrekkige dienslewering ervaar is nie uniek nie, en daar is geen kitsoplossings nie. Nou is egter nie die tyd vir terugsit in die lig van ‘n vroeëre hooggeregshofbeslissing vir provinsiale ingryping by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie, sê Christo Bester, Sakeliga se Bestuurder: Sake Organisasies en Ondersteuningsnetwerk.
Bester was Woensdag die gasspreker by die gemeenskap drukorganisasie, Save Ngwathe, se algemene jaarvergadering. Die organisasie is drie jaar gelede gestig.
Bester het nie doekies omgedraai toe hy gesê het dat inwoners van die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville – wat deur die Ngwathe Munispaliteit bedien word- nie ‘n vinnige ommekeer moet verwag nie.
Met verwysing na die Vrystaatse Hooggeregshof beslissing in Junie vanjaar, het Bester gesê dat inwoners juis nou meer druk op die munisipaliteit moet plaas, omdat ‘n hofstryd ‘n proses is waarvan net tyd sal leer wat die uitkoms is.
AfriForum bring vandeesweek sy aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 om te vra dat die bevel van die Vrystaatse Hooggeregshof intussen uitgevoer word, hangende die uitkoms van die appèlproses teen die hooggeregshofbeslissing. Bester sê egter selfs al sou die hofbevel in werking gestel word en die Ngwathe raad ontind, amptenare van die munisipaliteit in hul poste bly.
Hy sê ingryping by ander munisipaliteite het gewys dat administrasie kan lei tot spanning in ‘n munisipaliteit met faksies wat ontstaan.
“‘n Hofbevel maak ook nie oornag straatligte en paaie reg, of herstel die watersuiweringsaanleg nie,” het hy gemaan.
Bester het melding gemaak van die belangrike rol wat Save Ngwathe in AfriForum se hofstryd teen Ngwathe gespeel het met data oor diensleweringsprobleme wat oor ‘n tydperk deur Save Ngwathe saamgestel is uit terugvoer van sy 3 097 lede.
Hy het spesifiek verwys na die verkiesing wat voorlê en gesê stemme is belangrik met té veel mense wat net sleutelbordstryders is wanneer dit kom by dienslewering.
Aan die hand van die situasie by die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit waar nasionale ingryping beveel is, en Sakeliga saam met die Ditsobotla Dienstevereniging ‘n leidende rol gespeel het in die jarelange hofstryd teen die munispalilteit, het Bester gesê dispuutverklaring is een van die kragtigste hefbome om munispaliteite tot aksie te dwing.
Bester het die proses rondom eiendomsbelastingdispute verduidelik. Hy sê ‘n verklaarde dispuut kan die verbruiker beskerm teen invorderingstappe van die munisipaliteit ten opsigte van bedrae wat in geskil geplaas is, asook om hom/haar te beskerm dat dienste soos water en elektrisiteit nie afgesny of ontkoppel word totdat die dispuut ondersoek, en ‘n amptelike beslissing gemaak is,
Voordat ‘n eiendoms-belastingdispuut verklaar kan word moet die nodige vooraf-ondersoeke gedoen word om te bepaal of ‘n beswaar suksesvol sal wees.
Die belangrikste dokumentêre bewyse by ‘n eiendomsbelastingdispuut is ‘n afskrif van die waardasierol ten opsigte van die spesifieke onroerende eiendom, en ‘n onafhanklike professionele waardasie.
“Jy moet deurlopend weet wat aangaan op jou rekening” raai Bester aan. Dit sluit ook in hoe die eiendom op jou rekening geklassifieer is.
Om ‘n eiendomsbelastingdispuut te verklaar sê Bester, kan egter net gedoen word as die huiseienaar na die waardasierol gaan kyk het, en beswaar aangeteken het as daar nie met die waardasie saamgestem is nie.
Wanneer ‘n dispuut ingedien is, word die verbruiker volgens Arf. 102 van die Munisipale Sisteme Wet beskerm. Bester het egter benadruk dat onkunde by sommige munisipale amptenare daartoe kan lei dat mense wat ‘n dispuut verklaar se kragtoevoer verkeerdelik afgesny word voordat die dispuut hanteer is. Hy het dit as ‘n klein ongerief vir ‘n groter doel beskryf, en gesê dat in sulke gevalle ‘n dringende aansoek na die hof gebring sal word.
Bester waarsku ook dat verbruikers nie ‘n dispuut kan verklaar oor infrastruktuur wat verval nie, soos paaie vol slaggate, en dat dit ook onwettig is om erfbelasting bloot net te weerhou.
In sy verduideliking oor hoekom munisipaliteite hulself in diensleweringspenaries bevind, het Bester gesê dat toelaes wat deur die nasionale tesourie aan munisipaliteite toegeken word, dikwels gebruik word om gate toe te stop vir salarisbetalings, terwyl die onderhoud van infrastruktuur agterweë bly, en nie genoeg geld vir dienslewering deur munisipaliteite ingevorder nie.
Naas die litigasieproses waar howe al meer moet ingryp by gebrekkige dienslewering, kan publieke/private vennootskappe help om beter dienste aan verbruikers te verseker soos in die geval van die Mafube Munispialiteit waar Rural Maintenance kragvoorsiening vir Frankfort by die munisipaliteit oorgeneem het, het Bester afgesluit.



