Blitsvinnig uit die wegspringblokke
Die byeenkoms was die ideale geleentheid vir atlete om op 'n vriendskaplike byeenkoms te kon kompeteer met die aanvang van die atletiekseisoen.
Vir Hoërskool Parys was dit Woensdag ‘n eerste met ‘n Blitz-atletiekbyeenkoms wat deur die skool aangebied is. Net meer as 140 atlete het deelgeneem – onder hulle ook atlete van skole van Vanderbijlpark en Fochville. Naas die o9, o11, o13 en o15 atlete, was daar meestersatlete wat hul talent op die atletiekveld gewys het.
Van die hoogtepunte van die byeenkoms was SA-atleet Dewald Prinsloo van Hoërskool Fochville met ‘n persoonlike beste diskusgooi-afstand van 49.19m vir seuns o19. Hoërskool Parys se PC Steyn behaal ook sy peersoonlike beste afstand vir diskusgooi seuns o15 met ‘n afstand van 36.08m, terwyl Primêre skool Parys se Katelyn Jones haar persoonlike beste afstand vir dogters o13 gegooi het met 23.42m.

By die hoogspringlat het Hoërskool Parys se SA-atleet Heinrich Nortje 1.75m gespring in die groep vir seuns o17, en Laerskool Fochville se Emily Benson kon spog met ‘n gewigstootafstand van 12.75m vir dogters o10.

Verskeie landloopatlete wat onlangs aan die SA Landloopkampioenskappe deelgeneem het, was ook by die Blitz-byeenkoms in aksie te sien.




