Verbruikers trek swaar: Agterstallige verbandrekenings styg met 50%
Hier is raad vir as jy sou agter raak met jou huislening
Die skerp afname in die aantal mense wat hul verbandrekeninge betyds kan betaal, wys hoe groot die finansiële druk op verbruikers tans is.
Waar daar histories sowat 92% van alle verbandrekeninge op datum was, het dit onlangs drasties gedaal. Teen die einde van 2023 was die syfer net 88%. Dit beteken dat die aantal agterstallige verbandrekeninge in net 18 maande met sowat 50% toegeneem het.
Volgens Renier Kriek, besturende direkteur van Sentinel Homes, ’n innoverende huisfinansieringsverskaffer, het die repokoers van die Reserwebank sy hoogste vlak in 15 jaar bereik. Dit hou verband met wêreldwye hoë inflasie, die Covid-19-pandemie se ontwrigtings, die Rusland-Oekraïne-oorlog en onlangse konflik in die Midde-Ooste.
Wenke vir huiseienaars
-
Reël vooraf met jou kredietverskaffer voordat jy ’n betaling mis. Moenie te veel belowe en te min lewer nie.
-
As jy reeds in agterstalligheid is, betaal enigiets wat jy kan, en hou daarmee aan. Banke is meer geneig om toegewings te maak as daar steeds betalings inkom.
-
As jou finansiële probleme nie gou gaan verbeter nie, oorweeg dit om die huis self te verkoop voordat die bank se prokureurs begin met aksie.. Dit kan jou ’n beter opbrengs en minder ekstra kostes gee.
-
Praat met jou familie en mense wat jy vertrou. Trots keer dikwels dat mense hulp vra, maar dit kan ’n belangrike reddingsboei wees.
Kredietverskaffers kan soms help met:
-
’n betalingsvakansie,
-
’n tydelike rente-alleen tydperk, of
-
die herstrukturering van jou lening deur agterstalligheid oor ’n paar maande te versprei.
Wees versigtig vir skuldberading
Kriek waarsku teen roekelose skuldberaders wat dit as ’n “wondermiddel” verkoop. Skuldberading verhoed dat jy nuwe skuld kan aangaan en red nie noodwendig jou huis nie.
Hy beklemtoon ook dat verbande nie reuse-winste vir banke inhou nie. “Banke verkies om bestaande klante te rehabiliteer eerder as om te kanselleer en nuwe skuld te begin.”



