Rowers teiken vulstasie; polisie vra publiek se hulp
Groot skade is aangerig nadat die rowers die OTM's en kluise met plofstof oopgeskiet het.
Die verdagtes wat vanoggend in die vroeë oggendure verantwoordelik was vir die roof en ontploffing by twee OTM’s en twee kluise by Kroonvaal Engen 1 Stop Suid , is steeds soek.
Polisiewoordvoerder sersant Mahlomola Kareli sê die voorval het omstreeks 02:00 vanoggend gebeur. ‘n Mahindra-vertuig het by die vulstasie-perseel ingery, en het een van die verdagtes wat agterop die bakkie was, skote in die lug geskiet. Van die werknemers wat besig was om die rybaan skoon te maak, is gedwing om op die grond te gaan lê.
Kareli sê terwyl die werknemers nog op die grond was, het hulle ‘n ontploffing in die vulstasie se geriefswinkel gehoor. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug.
Groot skade is deur die rowers aangerig met de OTM’s en kluise wat met plofstof oopgeskiet is. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Kareli het bevestig dat geen arrestasies nog in verband met die roof gemaak is nie.
Enigeen wat die polisie kan help met hul ondersoek, is gevra om kaptein Sandile Dhladhla van die polisie se Provinsiale Georganiseerde Misdaad-eenheid te skakel by 073 226 6788,. of Crime Stop by 08600 10111. Anonieme leidrade kan ook via die MySAPSApp deurgegee word



