Soektog na dié vermiste mans
Uitgebreide soektogte na die mans het steeds niks opgelewer nie en word die gemeenskap se hulp nou gevra om te help om die mans te vind.
Eben van der Vyver
Die polisie in Rustenburg doen ’n beroep op die gemeenskap om te help met die opsporing van die vermiste 38-jarige Eben van der Vyver, wat op ’n kleinhoewe in Rhenosterfontein in Rexweg, Rustenburg, woonagtig is.
Eben is die laaste keer gesien deur sy ma toe sy hom op 13 Desember 2023, by ’n kerk langs die R104-pad afgelaai het. Op 18 Januarie 2024, is sy rugsak by ’n vriend se plaas in die Rustenburg-omgewing gevind.
’n Soektog is geloods en omvattende ondersoeke is gedoen, maar sonder sukses.

Ten tyde van sy verdwyning het hy ’n bruin kortbroek, bruin geruite hemp en swart skoene gedra. Hy het ’n donkerbruin gelaatskleur, bruin oë en kort, bruin/blonde, krullerige hare. Hy het ’n selfgemaakte klip- en kralehalssnoer gedra, en op sy linkerarm ’n selfgemaakte armband van swart klip met silwer, swart en wit kleure.
Hy het ‘n Dawidster-tatoeëermerk op sy linker bobeen, ’n litteken op sy linker wysvinger, ’n kuiltjie in sy regterwang en ’n diep litteken op sy ken.
Enigiemand met inligting oor waar hy hom mag bevind, kan die ondersoekbeampte, sersant Amukelani Mashimbye, kontak by 082 772 9226, of hul plaaslike polisiekantoor of Crime Stop by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook deur die MySAPS-app via ’n slimfoon ingedien word.
Richard Hammond
Die polisie in Mooinooi doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om die 46-jarige Richard Hammond op te spoor wat op ’n kleinhoewe in Barnardsvlei, Mooinooi, woonagtig is. Hy het in Julie 2023 van die huis af vertrek om werk in Rustenburg te soek, maar het nooit teruggekeer nie.
Ten tyde van sy verdwyning het hy ’n donkerblou denim en ’n wit hemp gedra. Hy is ongeveer 1,85 m lank, is klein gebou met blou oë, bruin, krullerige hare, en ’n kort wit snor en baard.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeamptes by Mooinooi-speurders, sersant Brenda Metseleng, kontak by 065 515 7052 of sersant Aaron Khunou by 076 565 8576. Jy kan ook jou plaaslike polisiestasie of Crime Stop by 08600 10111 skakel. Anonieme wenke kan deur die MySAPS-app via ’n slimfoon ingedien word.



