Local newsNews

Elke drie dae sterf ‘n kind aan wanvoeding

Volgens 'n UNICEF-verslag is Suid-Afrika een van die top 20 lande waar 65% van die wêreld se wanvoeding onder kinders voorkom.

Die jongste syfers van die Gautengse Departement van Gesondheid wys dat wanvoeding onder jong kinders ‘n ernstige en volgehoue krisis in die provinsie is. Volgens ‘n geskrewe antwoord van die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sterf sowat 130 kinders jonger as vyf elke jaar aan wanvoeding. Van 2018 tot middel 2025 is altesaam 998 kindersterftes aan wanvoeding gekoppel.

Hierdie syfers is bekendgemaak nadat dr. Jack Bloom, die DA se skadu-LUR vir gesondheid in Gauteng, ‘n parlementêre vraag aan die LUR gestel het. Bloom het daarop gewys dat die statistiek ‘n wekroep behoort te wees vir die regering om dringend stappe te doen.

Verlede jaar alleen is meer as 8 500 gevalle van kinderwanvoeding in Gauteng se hospitale en klinieke aangemeld. Die hospitale met die hoogste getalle sluit in die Steve Biko Akademiese Ho.0spitaal (229 gevalle), Rahima Moosa Hospitaal (228 gevalle) en Chris Hani Baragwanath Hospitaal (217 gevalle). Klinieke in Olievenhoutbosch, Lenasia-Suid en Hillbrow het ook honderde gevalle van ernstige, akute wanvoeding behandel.

Volgens die departement word nuwe gevalle in ‘n terapeutiese voedingsprogram opgeneem totdat kinders genoeg gewig optel. Die meerderheid sterftes hou verband met onderliggende mediese toestande en komplikasies soos diarree, longontsteking, tuberkulose en MIV/Vigs.

Kenners wys daarop dat die volgende faktore tot die probleem bydra:

  • Armoede en werkloosheid – ouers kan eenvoudig nie kos koop nie.
  • Hoë kospryse – gesonde kos is buite bereik vir baie gesinne.
  • Gebrek aan kennis oor voeding – kinders kry dikwels hoofsaaklik stysel en min proteïen.
  • Siektes en swak toegang tot vroeë gesondheidsorg.
  • Swak prestasie van maatskaplike vangnette en ondersteuningstelsels.

Solidariteit Helpende Hand sê die jongste syfers beklemtoon die noodsaaklikheid van sterk samewerking tussen die regering en die burgerlike samelewing.

“Wanneer ‘n kind aan wanvoeding sterf, is dit nie net ‘n gesondheidskwessie nie, dit is ‘n gemeenskapskwessie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Ons sien daagliks dat projekte soos ons Kosblikkie-inisiatief en HelpJag ‘n werklike verskil maak. Dit wys dat praktiese en volhoubare oplossings moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan om te sorg en nie net aan eie gewin dink nie.”

Helpende Hand se Kosblikkie-projek voorsien daagliks meer as 8 000 kleuters van ‘n voedsame bord kos. Met skenkings en gemeenskapsbetrokkenheid word kos direk na kwesbare kinders se skole gekanaliseer.

Helpende Hand doen ‘n beroep op gemeenskappe, besighede en ander organisasies om saam te werk aan oplossings wat kinders se lewens kan red en vir hulle ‘n toekoms moontlik maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button