Vyftien jaar vir paartjie ná hul man met bottels aanrand en beroof
Hul slagoffer is ernstige beseer tydens die huisroof.
‘n Huiswerker en haar kêrel, Issah Chisumbi (27) en Naledi Dangaje (21), is in die Parys-landdroshof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir ‘n huisroof waartydens die 49-jarige slagoffer ernstig beseer is.
In die hof is getuig hoe hul slagoffer op 2 September om 02:00 die oggend wakker geword het van ‘n skerp pyn aan sy pols waar hy gesny is. Sy huiswerker en haar kêrel het langs sy bed gestaan waar hulle hom met bottels aangerand en geld ge-eis het.
Die slagoffer het R10 000 vir hulle gegee, maar die verdagtes wou meer hê. Hulle het hom verder aangerand en vier selfone, twee tablette en ’n skootrekenaar ter waarde van R40 200 gebuit, voordat hulle die toneel verlaat en die slagoffer ernstig beseer agtergelaat het. Hy is in die hospitaal opgeneem vir mediese behandeling.
Speur-sersant Thamsanqa Nqai, verbonde aan Parys SAPD-speurdiens, het onverpoosd gewerk om te verseker dat die paartjie voor die gereg gebring en suksesvol vervolg word, sê polisiewoordvoerder sers. Josephine Rani.



