Local newsNews

Kilometers op tekkiesole vir Comrades-droom

Hardloop maak Koos Letsoba gelukkig en het hy van kleins af gewys hoeveel talent hy op die sportveld het.

Hardloop is die taal wat Koos Letsobe se voete ken. Sy tekkiesole verslete. Maar elke dag hardloop hy die 28km na die Rademans se plaas in die Vredefort-distrik. Daar waar hy die afgelope 16 jaar by Küpel Water werk. Raakvat hande, vertel Pieter en Erna Rademan as hul praat oor Koos.
Soggens 06:00 is hy op die pad. Of dit ‘n ysige Vrystaatse wintersoggend is, of ‘n bloedige warm somersmiddag. Nooit is hy laat nie. Sy werksklere ongemaklik vir die drawwery, maar Koos kla nie, want hardloop is wat hom gelukkig maak. Al van skooltyd af, vertel hy.

Hy’t uitgeblink op die sportveld – sokker, atletiek, krieket, vlugbal. Toe kry hy die trofee as Sportseun van die Jaar by Lenasia se Flamingo Primary School.
Op hoërskool word hy op die sokkerveld raakgesien en begin hy ernstig sokker speel. Hy noem die name van die spanne waar hy gespeel het – Wits, Swallows, Jomo Cosmos. “Al die mense van Vredefort ken my van die sokkerveld af,” sê hy.

Geld en geleenthede was daar nie vir die jong seun wat in ‘n weeshuis in Lens (soos hy na Lenasia verwys) grootgeword het, om sy talente verder te kon ontwikkel nie.

As volwasse man is hy met sy ouers in Vredefort verenig, en het sy pad met dié van die Rademans gekruis danksy ‘n vriendin van sy ma wat ook vir die Rademans werk. Nou klap sy voete die stof- en teerpad elke dag om op die plaas te kom. Sy skoolonderwyser, mnr. Sali, se woorde in sy ore. “Jy begin stadig. Dan tel jy spoed op. En wanneer jy by die driekwart-merk kom, gaan jy voluit.”

Hy hardloop soos in ‘n wedloop – gefokus op sy doelwit om sy tyd te verbeter. Eers het hy die 28km in twee en ‘n half uur gehardloop. Nou is hy binne ‘n uur en ‘n half op die plaas, vertel Koos trots.

Hardloop is die taal wat Koos Letsoba se voete ken en hardloop hy elke dag 28km werk toe.

As die dag sleg was, is hardloop wat hy doen om sy kop skoon te kry, sê hy.

Sokker gaan hy nie weer speel nie, maar hardloop – dit is sy ding. “Ek was goed in landloop en 1 500m op skool,” beduie hy, en sê vasbeslote: “Eendag gaan ek die Comrades doen.”

Geld vir ‘n afrigter of klubfooie is daar nie. Ook nie vir ‘n nuwe paar nr. 6 tekkies nie, maar niks blus die brandende passie in die hart van hierdie pa van twee, wanneer sy voete hul ritme op die pad kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button