Wilde Vere – ‘n tuiskoms, na jouself en wie jy regtig is
Lees Hendie se kortverhale op Litnet by: https://www.litnet.co.za/author/hendie-grobbelaar/
“My hart is nog oranje en ek verlang baie dae na ‘n donderende Vrystaat-reënbui,” gesels skrywer Hendie Grobbelaar oor wat sy mis van die Vrystaat waar sy in die vroeë tagtigerjare in Parys in die destydse Arwa-fabriek gewerk, en in Sasolburg gewoon het. Deesdae is Gouritzmond haar tuiste waar sy in 2015 voltyds begin skryf het.
Waar sy aanvanklik gekoester gevoel het in die komberse van radiodrama en kortverhale, wys Hendie haar veelsydigheid met haar debuutroman, Wilde vere – ‘n boek oor tuiskoms, na jouself en na wie jy regtig is.
Uit Hendie se skrywerspen het drie kortverhaalbundels al verskyn – Potskerwe (2016), Striksvye (2017) en Maskermense deur Naledi Uitgewers (2021). In 2020 debuteer sy as dramaturg met die radiodrama Johanna se Elvis as deel van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie.
Die daaropvolgende jaar verower sy die tweede plek in dieselfde kompetisie met Sterrereën. Haar kortverhale het verskeie pryse gewen, onder meer die Woordfeesbundel se kompetisie in 2019, en die CJ Langenhoven gedenkfonds se wetenskapsfiksieprys.
Analize Viljoen het met Hendie gesels
Wilde vere is ‘n ligte ontspanningsverhaal oor doodgewone mense wat op hul manier hul uitdagings probeer oorkom. Dit vertel die verhaal van die vyftigjarige Pop de Wild, ‘n moedelose en lewensmoeë vrou wat haar dobbelverslaafde man, versukkelde kleinhoewe en hoenderboerdery moet versorg. Haar niksnut seun, Evan, kom terug van sy verkwiste oorbruggingsjaar in Engeland, vergesel van sy swanger, volksvreemde bruid, Sue. Sue is ‘n weeskind wat ‘n vertroueling vind in Maria Magdalena, ‘n verstote hoenderhen op die kleinhoewe.
Terwyl Sue smag na ‘n toekoms in haar nuwe land, hunker sy ook na ‘n verlede met familiebande. Na ‘n paar tragedies, beland Pop en Sue in Bali waar hulle hoop om antwoorde vir hul baie vrae te kry. In hierdie hele mengsel is Elsie, Pop se suksesvolle en mooi suster wat ‘n groot geheim met Pop se man, Gys deel. Die storie sal hoofsaaklik aanklank vind by vroue wat ook voor die vraag te staan gekom het van wie is ek? Waar hoort ek, en waarheen is ek op pad?

Hoe het jy op die titel besluit, en watter rol speel vere en die hoenders in die boek?
Ek is baie ingestel op simboliek, en vere het nog altyd ‘n besondere bekoring en aantrekkingskrag vir my gehad. Die rol van vere as simbole van hoop, spiritualiteit en vergifnis trek regdeur die storie.
Was dit vir jou maklik om die oorgang te maak na die langer, romanvorm van Wilde vere?
Dit is nooit maklik om uit jou gemaksones te beweeg nie. Daar was egter bietjie druk (waarvoor ek dankbaar is) van vriende en lesers om ‘n roman te skryf.
Toe pak ek die roman maar aan soos ‘n een-hoofstuk-kortverhale-boek met ‘n sentrale storie wat organies ontwikkel.
Baie lesers en resensente praat van jou oortuigende, volronde karakters. Hoe gee jy jou karakters lewe?
Ek het die storie met drie karakters geskryf as ‘n kortverhaal in my laaste kortverhaalbundel. Die grondslag was gelê en ek het hulle hoofstuk vir hoofstuk vleis gegee en voor uitdagings gestel. My karakters bevat ook stukkies en brokkies van persoonlikhede wat ek ken of geken het, soos my oorlede suster, vriendinne, en selfs ‘n bietjie van myself in Pop en Sue.

Hoeveel van jouself sit jy in jou karakters?
Onvermydelik sal daar iets van ‘n skrywer se persoonlikheid aan een of meer van sy karakters afvryf. Ek probeer dit so min as moontlik doen, maar dit gebeur tog.
Die storie maak ‘n draai in Bali. Het jy ‘n besondere liefde vir Bali, of waarom Bali as bestemming gekies?
Ek het van die begin af geweet die karakters sou iewers heen moet reis om die tema van tuiskoms te illustreer. Aanvanklik wou ek die platteland van Nederland of Frankryk besoek. Bali was ‘n goedkoper opsie. Ek kon ook ‘n paar vere uit Elizabeth Gilbert se storie trek soos die wyse ou man wat vir Pop en Sue ‘n paar subtiele lesse leer. Ek en ‘n vriendin het heelwat van die tonele (soms skreeusnaaks) in die boek self deurgemaak. Dit het geloofwaardigheid aan die storie verleen.
Was jy voorbereid op die goeie resensies op jou debuutwerk?
Ek was glad nie voorbereid op die goeie terugvoering nie, maar ek het daarvoor gebid en duim vasgehou! My uitgewer, Jaco Adriaanse van Lapa Uitgewers, en Erla Diedericks wat gehelp het met manuskripontwikkeling, het my die heeltyd moed ingepraat en verseker dat die boek goed ontvang sal word. Ek was versigtig optimisties. Die druk is nou stewig op my skouers om seker te maak die volgende boek word ook goed ontvang. Maar, ek is reg daarvoor en het alreeds aan ‘n tweede Pop-verhaal begin skryf.



