R4 miljoen verbeuringsbevel teen maatskappy wat aan Louis Liebenberg gekoppel is
ZencoCare was deel van die Forever Diamonds and Gold-groep van maatskappye, met Desiree Liebenberg – gade van Louis Liebenberg – as enigste direkteur. Beide word verbind met ’n onwettige beleggingskema wat plaaslik en internasionaal lede van die publiek gelok het om in diamantpakkette te belê met die belofte van winsgewende korttermyn-opbrengste
Die Hoë Hof in Pretoria het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Bateverbeuringseenheid (AFU) ’n finale verbeuringsbevel toegestaan vir R4 miljoen plus rente uit ’n Standard Bank-rekening van ZencoCare (Edms) Bpk, wat gekoppel is aan Desiree en Louis Liebenberg.
Die geld is deel van ’n beweerde onwettige beleggingskema waar beleggers gelok is om in diamantpakkette te belê. Die fondse is volgens ondersoeke gebruik om vroeëre beleggers te betaal – tipies van ’n Ponzi-skema.
In 2024 het ZencoCare R5 miljoen aan prokureurs oorgedra. Hiervan is R1 miljoen aan Eskom betaal vir mynbou-verwante aktiwiteite, terwyl die oorblywende R4 miljoen bewaar is. Daardie bedrag, saam met opgehoopte rente, is nou aan die staat verbeur. Die fondse was oorspronklik bestem vir die aankoop van West Coast Resources (Edms) Bpk, ’n diamantmynmaatskappy in die Noord-Kaap.
Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se Gauteng-afdeling, sal die verbeurde fondse in die Kriminele Bates Herwinningsrekening (CARA) inbetaal word om die stryd teen georganiseerde misdaad te versterk.
Louis en Desiree Liebenberg, saam met sewe mede-beskuldigdes, staar klagte van bedrog, diefstal, afpersing en geldwassery in die gesig. Hulle sal op 25 November 2025 in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.



