Wys plaasaanvalle en -moorde apart in stastistiek, gee aandag aan veediefstal, sê VL
StatsSA wys byvoorbeeld daarop dat slegs sowat 10% van veediefstalgevalle aan die SAPD gerapporteer word. Dit beteken dat bykans 90% van hierdie misdade nooit in misdaadstatistieke verskyn nie.
Vrystaat Landbou (VL) het die afgelope week ‘n beroep op die Minister van Polisie gedoen om plaasaanvalle en -moorde, soos omskryf in die Nasionale Landelike Beveiligingsstrategie, apart uit te wys wanneer misdaadsyfers bekendgemaak word. Die organisasie sê ook dat álle ernstige geweldsmisdade wat huishoudings in landelike gebiede raak – soos moorde en pogings tot moord – volledig weerspieël moet word, omdat dit wil voorkom asof die ware omvang van hierdie misdade nie duidelik in statistieke na vore kom nie.
Dié reaksie volg op die waarnemende minister van polisie, prof Firoz Cachalia, se onlangse opmerking dat “boere nie sistemies deur misdaad geteiken word nie”.
Vrystaat Landbou (VL) sê die organisasie veroordeel al dekades lank alle vorme van ernstige geweldsmisdade in die landelike gebiede, hetsy plaasmoorde, moorde in die algemeen, pogings tot moord, gewapende roof of ernstige aanrandings. “Hierdie misdade het ’n ingrypende invloed op boere, hul gesinne en werkers, sowel as op die volhoubaarheid van hul boerderypraktyke. Dit raak nie net kommersiële boere nie, maar ook opkomende en bestaansboere, en veroorsaak ’n geweldige trauma in huishoudings.”
Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, wys uit dat daar volgens StatsSA se Landbou- misdaadopname van 2022 :
• 16,06% van huishoudings in die Vrystaat op plase woon.
• Slegs 10,43% van die 135 748 huishoudings primêr ’n inkomste uit boerdery verdien.
• Dit verteenwoordig slegs 1,68% van die totale 845 250 huishoudings in die provinsie.
“In die 2024/2025-boekjaar is 895 moorde in die Vrystaat aangemeld. As plaasmoorde volgens die amptelike definisie apart uitgewys word, toon dit dat nie al die moorde op landbougrond korrek weerspieël word nie. Dit laat blyk dat landelike huishoudings waarskynlik meer intensief deur misdadigers geteiken word.” Sê Buys.
Nog ’n ernstige bekommernis is dat misdadigers dikwels by beide gewelds- én eiendomsverwante misdade betrokke is.
Vrystaat Landbou meen verder dat boerderygemeenskappe talle uitdagings met die polisiediens ervaar, soos:
• Gebrek aan diensbare voertuie wat die bywoning van misdaadtonele vertraag.
• Kriminele word gereeld in georganiseerde groepe en sindikate betrek, soms met elemente
van polisie-korrupsie.
• Die voortdurende geteikendheid bedreig die oorlewing en finansiële volhoubaarheid van
boere.
VL vra dat die Minister van Polisie:
1. Die Nasionale Landelike Beveiligings Strategie ten volle implementeer en verseker dat elke landelike of landelik/stedelike polisiekantoor oor minstens een tot twee toegewyde Landelike Veiligheidskoördineerders beskik, met ’n duidelike mandaat, ’n toegewyde voertuig en toepaslike toerusting.
2. Die beskikbaarstelling van 104 voertuie (2,9% van die Vrystaat se vloot) vir hierdie koördineerders.
3. Die ernstige tekorte by die Veediefstaleenhede in beide mannekrag en voertuie – dringend aanspreek.
“Boere word wel sistematies geteiken en die SAPD se onvermoë om hul grondwetlike mandaat uit te voer, plaas landelike gemeenskappe onder geweldige druk. VL vereis daarom daadwerklike optrede en aanspreeklikheid om ons boere, hul gesinne en werkers te beskerm,” sê Francois
Wilken, president van Vrystaat Landbou.



