Die bron van infeksie van die malaria waaraan ‘n voormalige Vrystaatse Jongboer van die Jaar, die 53-jarige Albé Grobbelaar van Luckoff gesterf het, is steeds ‘n raaisel. Grobbelaar was 53 en is op 1 Oktober oorlede.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid, het vanmiddag gesê dat Grobbelaar se vrou, Sorita (50) steeds in ‘n algemene saal in Mediclinic Bloemfontein aansterk. Die egpaar se 23-jarige seun, Louis, is reeds ontslaan en kon veilig terugreis na Potchefstroom, het Mvambi gesê.
Mvambi het benadruk dat provinsiale en nasionale kundiges steeds besig is met ondersoeke om die bron van die infeksie te bepaal en ‘n waarskynlike wetenskaplike verduideliking te probeer kry vir die drie gevalle in die nie-endemiese gebied.
Geen nuwe gevalle, buiten dié van die Grobbelaars, is sedertdien in die gebied aangemeld nie.
Entomoloë besoek Xhariep-distrik
’n Span entomoloë van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) sal tussen 14 en 17 Oktober 2025 die Xhariep-distrik in die Vrystaat besoek om muskietmonsters te versamel vir toetsing, met die doel om vas te stel of Anopheles-muskiete, wat moontlik met die gevalle verband hou, in die gebied voorkom.
Malaria is nie van persoon tot persoon oordraagbaar nie, en is vroeër genoem dat hierdie moontlik ‘n geïsoleerde geval was.
Mvambi sê genotiperingresultate dui daarop dat die gesin van drie moontlik deur dieselfde muskiet gebyt is.
Raad vir die publiek
- As jy onlangs in malaria-endemiese gebiede was en simptome soos koors, kouekoors, hoofpyn, liggaamspyn of griepagtige tekens ervaar, soek onmiddellik mediese hulp by jou naaste kliniek of hospitaal.
- Beperk muskietbyte deur afweermiddels te gebruik, langmouklere en lang broeke saans te dra, en staande water rondom huise te verwyder.
Mvambi het ook mense aangeraai om slegs die amptelike opdaterings van die Vrystaatse Departement van Gesondheid te raadpleeg vir inligting, en om nie ongeverifieerde inligting te versprei nie.
Sodra nuwe inligting bekend is, sal dit aan die publiek deurgegee word, het Mvambi gesë.



