Plaasaanval: Bakkie binne halfuur gekry ná aanval op egpaar
Bure het vanoggend vinnig reageer om 'n egpaar te hulp te snel ná 'n plaasaanval net buite Parys, en is die egpaar se bakkie wat tydens die aanval gesteel is, binne 'n halfuur teruggekry.
Binne ‘n halfuur nadat ‘n dubbelkajuit Toyota Hilux-bakkie vanoggend in ‘n plaasaanval sowat 8km buite Parys langs die R500 gesteel is, is die voertuig verlate langs die Weiveld-pad gekry.
Volgens Annika Liebenberg, wat naby die egpaar woon, het bure onmiddellik reageer op die vrou se hulpkreet op die Vaalrivier Rooikat-noodgroep nadat die egpaar op hul plaas deur ‘n man met ‘n skerp ystervoorwerp aangeval is,, en daarna met die egpaar se bakkie gevlug het.
Die aanval was tussen 07:30 en 08:00 vanoggend. Die egpaar se aanvaller het te voet toegang tot die plaas gekry en toe weggekruip in ‘n stoorkamer langs die huis. Hier het hy die vrou oorval toe sy na die stoor is om ‘n seil te gaan haal, en het hy haar met die skerp yster wat hy vermoedelik in die stoor gekry het, oor die kop geslaan.
Een van die vrou se dogters wat ook in die huis bly, het haar ma hoor skree en is na die stoorkamer. Sy het tussen haar ma en die aanvaller inbeweeg en gesmeek dat hy moet vat wat hy soek en hulle moet uitlos.
Die man het ma en dogter in die stoorkamer toegesluit en is na die huis waar hy die egpaar se bakkie sleutels gevat het. Terwyl hy in die huis was, is hy deur die vrou se man naby die kombuis betrap waar hy by die sleutelhakkies doenig was. Met dié het die verdagte man dieselfde skerp ystervoorwerp gebruik om ook die man aan te rand.
Intussen het die vrou se ander dogter wat naby haar ouers woon, op die plaas aangekom om die seil te kom haal wat haar ma vir hulle uit die stoorkamer sou haal. Die aanvaller het egter homself uit die voete gemaak met die egpaar se bakkie.
Die vrou en dogter wat in die stoorkamer toegesluit was, kon by ‘n ander deur van die stoor uitkom, en het die beseerde man in die huis gekry. Die dogter het met haar ouers in die motor na die R500 gejaag waar sy die nooddienste langs die pad ontmoet het.
Liebenberg sê dit wil vookom asof die aanvaller die plaas geken het.
Sy het ook vertel dat terwyl hulle na die plaas is om hulp te verleen, het Calvin Faber, en van die ander bure dadelik gehelp om nooddienste te aktiveer en te soek na die egpaar se voertuig. Kort daarna is die boodskap op die noodgroep ontvang dat die voertuig op die Weiveld pad gekry is.
Sover bekend is net die egpaar se voertuig gesteel. .
Die vrou moes steke in haar gesig en op haar kop kry en is reeds ontslaan. Die man is in die hospitaal opgeneem vir behandeling en observasie.
Die egpaar se dogters het na die aanval elke persoon wat reageer het op die noodroep om hulp, opreg bedank.
Met die skryf van die berig was die verdagte nog op vrye voet.



