Heilbron-plaasaanval: Dertien binne ure gearresteer
Die arrestasie het binne ure gevolg na die brutale aanval danksy die samewerking tussen die polisie, die boeregemeenskap, private sekuriteitsondernemings en ander rolspelers.
Dertien verdagtes onder wie elf mans en twee vroue is vanoggend in hegtenis geneem binne ure na ‘n brutale plaasaanval in die Heilbron-distrik waartydens ‘n plaaswerker doodgeskiet en sy 34-jarige vrou seksueel aangerand en met ‘n mes gesteek is.
Die polisie het ook beslag gelê op 22 skape, ’n vuurwapen, ‘n minibus en huishoudelike items, het kapt. Loraine Earle bevestig.
Vinnige en gekoördineerde optrede lei tot arrestasie
Die waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Vrystaat, generaal-majoor Solly Lesia, het die vinnige en gekoördineerde optrede van die polisie, die boeregemeenskap, private sekuriteitsondernemings asook alle betrokke rolspelers geloof.
Die vrou is na ’n plaaslike hospitaal geneem waar sy mediese behandeling ontvang.
“Hierdie vinnige reaksie en suksesvolle inhegtenisneming van die verdagtes toon wat bereik kan word wanneer die polisie en gemeenskap saamwerk. Ons sal voortgaan om beslissend op te tree teen enige vorm van gewelddadige misdaad,” het Generaal-majoor Lesia gesê.
Die verdagtes sal in die landdroshof in Heilbron verskyn op klagte van moord, poging tot moord, verkragting, roof en veediefstal.
Die plaasaanval in die Heilbron-distrik volg minder as drie weke ná ‘n voormalige werknemer ‘n 70-jarige boer, sy 68-jarige vrou en hul 34-jarige dogter op 12 Oktober op hul plaas langs die R500 (Parys/Fochville)-pad in die Buffelshoek-gebied aangeval en beroof het.
Malandela George Mbela (48) het homself ‘n dag na die aanval by die Parys-polisiestasie gaan oorgee waar hy deur lede van die Buffelshoek SAPD in hegtenis geneem is.



