Local newsNews
Suid-Afrika se bekendste gifmoordenaar
Daisy de Melker was die tweede vrou in Suid-Afrika wat gehang is.
Daisy Louisa C Hancorn-Smith (de Melker ) is op 1 Junie 1886 gebore in Grahamstad. Sy was 1 van 11 kinders. Haar ma het gesterf toe Daisy 10 jaar oud was. Daarna moes sy na haar pa toe verhuis wat in Rhodesië gewoon het.
Op 15 jaar is sy weer terug gestuur Suid-Afrika toe om in Kaapstad skool te gaan.
Hoewel sy ‘n gespelete verhemelte gehad het was sy ‘n pragtige jong vrou.

Daisy bekwaam haarself as verpleegster en werk in die Berea Versorgingsoord in Durban.
Op 21-jarige ouderdom raak sy verloof aan Bert Fuller. Hy sterf op hul beplande troudag aan swartwaterkoors. Sy erf 100 pond uit sy boedel.
Daarna trou Daisy met William Alfred Cowle, ñ loodgieter. Hulle huwelik duur 14 jaar. Hierdie egpaar het vyf kinders gehad waarvan net een seun, Rhodes Cecil Cowle oorleef het.
Die eerste twee was ñ tweeling wat vroeg gesterf het. Die derde sterf as gevolg van ‘n abses in die lewer en die vierde sterf op 15 maande van stuiptrekkings en dermprobleme.
Cecil Cowle word siek nadat Daisy vir hom koeksoda gegee het om te drink. Hy herstel en dokter reken dit is nie ernstig nie.
Kort daarna word hy weer ernstig siek en bure laat roep ñ dokter. Cowle was blou in die gesig met skuim om die mond en sterf kort daarna.

Die dokter vermoed strignien-vergiftiging en weier om die doodsertifikaat te teken.
Die distriksgeneesheer doen ñ lykskouing en verklaar dat hy aan natuurlike oorsake gesterf het.
Daisy ontvang 2345 pond uit ‘n polis en 533 pond pensioen.
Op 36-jarige ouderdom trou Daisy met Robert Sprout, ook ñ loodgieter wat 10 jaar ouer as sy was.
In 1927 word Sprout ernstig siek met maagkrampe en stuiptrekkings. Hy herstel, maar ñ maand later word hy weer siek met dieselfde simptome nadat hy ‘n bier in die teenwoordigheid van sy vrou en stiefseun grdrink het. Hy sterf kort daarna.
Daisy kry 4560 uit sy boedel en 650 uit pensioenfonds.
Op 21 Januarie 1931 trou Daisy met Sydney de Melker, ñ Springbokrugbyspeler.
Op 2 Maart 1932 drink Daisy se seun, Rhodes, en ‘n medewerker koffie uit ñ fles. Beide word ernstig siek.
Op 5 Maart 1932 sterf die 20-jarige Rhodes. Die kollega oorleef. Die lykskouing dui die oorsaak van Rhodes se dood as serebrale malaria aan. Daisy kry 100 pond uit sy polis.
Sprout se broer raak agterdogtig oor die drie sterftes in Daisy se verlede en reël dat die lyke opgegrawe en ondersoek word.
Die ondersoek bevind Rhodes se lyk bevat arseen, en dié van die twee vorige mans strignien.
Daisy word in hegtenis geneem en die media plaas berigte daaroor.
‘n Apteker in Turffontein herken haar foto en getuig dat Daisy Februarie 1932 by hom arseen gekoop het, glo vir ‘n siek kat.
In Rhodes se kollega wat herstel het se naels en hare word spore van arseen gevind.
Daisy word skuldig bevind aan moord op haar seun Rhodes.
Haar aandeel in die vergiftiging van haar 2 vorige mans kon nie bo alle redelike twyfel bewys word nie
Die motief waarom sy haar seun so ñ pynlike dood laat sterf het, was moontlik die feit dat hy naby 21 was en aanspraak gemaak het op sy erfporsie van sy pa af.
Vrydag 30 Desember 1932 word Daisy op 46 jarige ouderdom gehang in die ou tronk in Pretoria Sy word in n ongemerkte graf in die Rebecca Begraafplaas begrawe.
Daisy het tot die einde volgehou dat sy onskuldig was.
Haar derde man, Syd de Melker, het reg deur die opspraakwekkende hofsaak in haar onskuld geglo.
Die nuwe eienaar van ‘n stukkende gramradio het dit vir herstelwerk na ‘n tegnikus geneem. Toe die tegnikus die agterkant oopskroef, ontdek hy ‘n versteekte koevert binne die radio.
Op die koevert was geskryf:
For dear old Syd.
Die wit poeier in die koevert: Arseen.
Syd de Melker is in 1953 oorlede.
Die storie van die gifmoordenares Daisy de Melker het nie tot ruste gekom nie. Op feitlik elke plek waar sy gebly het en selfs waar sy aangehou, verhoor en gesterf het, is daar dikwels volgens getuies eienaardige veskynings.
So vertel majoor Mathilde Small, wat in die vroeë 1990’s in die Polisiemuseum in Pretoria gewerk het, van vreemde gebeure tydens haar dienstydperk daar.
Die gebou wat die Polisiemuseum gehuisves het, was in die 1930’s die polisiehoofkantoor en dit is hier waar Daisy destyds as verhoogafwagtende ondervra is. Selfs in Hof 3 van die Johannesburg Hooggeregshof vertel wagte dat hulle Daisy daar opgemerk het.

Daisy het in verskeie huise gewoon. Die eerste huis waar haar eerste kinders gesterf het was Tullystraat 22. Daar word bespiegel dat hulle moontlik ook vergiftig was. Volgens ñ berig in die Alberton Record (2021) was daar verskeie pleidooie en skriftelike versoeke aan die regering om hierdie huis te beskerm en te restoureer ter wille van Suid-Afrika se ryke geskiedenis en toerisme. Die huis was bekend as Die Spookhuis en daar was verskeie gerugte van abnormale gebeure in em om die huis. Ongelukkig het onwettige inwoners die huis beset.
Haar tweede huis was blykbaar Terrace Drive Bettany.
Volgens gerugte was haar huis moontlik ook in Clubstraat Turffontein, Johannesburg. In die buurt word ook vertel van ‘n figuur wat saans uit die venster loer terwyl niemand tuis is nie.
Die statige ou huis staan nog net so in Clubstraat, maar is erg verwaardloos en vervalle.
Daar is ook bewerings dat die huis op die hoek van President en Turfclub Road ook deur Daisy bewoon was.
Daar is dus redelike teenstrydighede en meningsverskille oor die presiese huise.
Saamgestel deur Kobie Ströh met dank aan lede van Monumente, Gedenktekens en Interessanthede Suid-Afrika Facebook-blad, Marius Buys, Fanie Pretorius, Peter Tait , Esme Buitendach, Dewald Ras en andere.
Bronne: Facebook, Wikipedia
Erkenning vir die toestemming van die plasing van die berig aan Kobie Ströh
Volg Monumente, Gedenktekens & Interessanthede SA by https://www.facebook.com/groups/372725536482372
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



