Rowers slaan toe op juwelierswinkels in twee sentrums
Albei rooftogte het vanoggend gebeur en word steeds gesoek na die verdagtes.
‘n Grootskaalse soektog is deur die polisie begin na die verdagtes wat verbind word met twee afsonderlike rooftogte by twee verskillende winkelsentrums in Bloemfontein.
Ses mans het Sondagoggend (16 November) om 09:45 eers ‘n juwelierswinkel in Northridge Mall beroof. Die gewapende rowers het die eienaar en werknemers beveel om op die vloer te sit, en toe die kasregister en rakke vol juweliersware leeggemaak. waarna hulle gevlug het met ’n wit Suzuki Amaze-sedan.
Die waarde van die gesteelde juweliersware word op ongeveer R250 000.00 geskat.
In ‘n afsonderlike gewapende rooftog omstreeks 12:21, is nog ’n juwelierswinkel in Bloemfontein beroof toe vyf onbekende mans die winkel in die Mimosa Mall beroof het. Die werknemers is met vuurwapens gedreig en beveel om op die vloer te lê. Daar word beweer dat die rowers hulself aan juweliersware en ’n onbekende bedrag kontant gehelp het. Al die verdagtes het swart hoede en chirurgiese maskers gedra. Die verdagtes het van die toneel gevlug in drie voertuie: ’n wit BMW, ’n wit Volkswagen Golf 7 en ’n wit Mercedes-Benz.
Twee skote is ook tydens die roof binne die winkel afgevuur. Niemand is beseer nie. ’n Saak van besigheidsroof is by die Parkweg-polisiestasie geopen.
Enige lid van die publiek met inligting oor die gewapende rooftog by Northridge Mall word versoek om luitenant-kolonel Kholisile Alfred Nqukuva te kontak by 082 467 6081. Kaptein Sabata Jafta Moseme kan by 082 526 2713 gekontak word vir inligting oor die rooftog wat by Mimosa Mall plaasgevind het. Alternatiewelik kan inligting deur die MySAPS-toep of by die SAPD se Stop Misdaadnommer 08600 10111 deurgegee word, het luitenant-kolonel Thabo Covane gesê.



