Drie sterf, talle beseer in busongeluk in die Vrystaat
Padongelukke in die Vyrstaat het reeds verskeie lewens oor die Feesseisoen ge-eis.
‘n Man en twee vroue het vanoggend gesterf, en talle is beseer in ‘n busongeluk op die N1-hoofweg sowat 20km buite Edenburg.
Volgens Sipho Towa, voorsitter van Road Incident Management Systems (RIMS), het die ongeluk net voor 02:00 vanoggend gebeur toe die bus en sleepwa wat in die rigting van Bloemfontein onderweg was, omgeslaan het.
Hoewel die bus net 70 passasiers kon vervoer, was daar meer as 70 insittendes in die bus, het Towa gesê.
Altesaam 71 pasiënte is van die botsingstoneel na die Nasionale Distrik-hospitaal, die Albert Nzulu Distrik-hospitaal, Pelonomi-hospitaal en die Botshabelo Distrik-hospitaal onderskeidelik vervoer.
Mense is weer gewaarsku om uiters versigtig te bestuur wanneer jy op die pad sou gaan, te hou by spoedgrense en volgafstande, en jou voertuig en bande behoorlik na te gaan voordat jy reis.
Die ongeluk volg nadat ses mense ook gister in ‘n noodlottige kop-aan-kop botsing in die Vrystaat tussen Petrus Steyn en Heilbron gesterf het.



