Liggaam van jongman in Vaalrivier gekry
Daar is oor die naweek onverpoosd gesoek na 'n 17-jarige skoolseun wat vermis geraak het na 'n bootrit op die Vaalrivier.
Die liggaam van ‘n jongman is vanoggend deur polisieduikers in die Vaalrivier gekry wat moontlik dié van die vermiste Thomas Sithole, ‘n 17-jarige skoolseun van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark kan wees.
Daar is oor die naweek onverpoosd na Thomas gesoek nadat hy as vermis aangegee is na ‘n private bootrit Vrydagmiddag op die Vaalrivier. Thomas was nie op die boot toe dit teruggekeer het na die oewer nie.


Die presiese omstandighede rondom Thomas se dood is nog nie bekendgemaak nie.
Sondag is op verskeie sosiale media platforms nog gevra vir inligting wat die polisie kon help in hul soektog na Thomas.
Luitenant-kolonel Mavela Masondo, het vroeër gesê bevestiging oor die identiteit van die liggaam wat vanoggend gekry is, sal eers gegee kan word sodra die familie die liggaam uitgeken het.



