Local newsNews

Likkewaan maak ‘n draai in Hickmanstraat

As likkewane bedreig voel, soek hulle skuiling, en as hulle nie kan wegkruip nie, suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in,

Likkewane is beslis geen ongewone gesig vir Parysenaars nie. In Oktober/November verlede jaar is ‘n rekord van tussen 14 en 20 likkewane in erwe in die dorp gekry, en het ‘n likkewaan ook verlede week amok in Hickmanstraat gemaak.

Die likkewaan is deur WeCare verwyder en in die natuur vrygelaat.

Wynand Nel van WeCare vertel dat likkewane roeër jare dikwels in leivore of in erwe in Parys na aan die rivier opgemerk is.

’n Paar interessanthede oor likkewane

* Likkewane se lengte kan wissel tussen 20 en 300cm (die Komododraak).
* Daar is 30 spesies in die likkewaanfamilie.
* Likkewane se sterk, gevaarlike kloue laat hulle rats en vinnig beweeg en kan hulle in bome of oor rotse klouter.
* Hul stert is sydelings afgeplat en is nie net ‘n swemorgaan nie, maar ook hul wapen.
* Hoewel die rugskubbe rond is en nie oormekaar gerangskik nie, is die skubbe op die pens meer vierkantig en in dwars rye gerangskik.
* Dit is nie net die likkewaan se lang gevurkte tong wat met slange ooreenstem nie. Ook die bou van die ruggraat en skedel toon ooreenkomste.
* Die tong dien ook as reukorgaan
.* Likkewane is dagdiere en vleisvreters, hoewel hulle ook eiers eet.
* Die grootte van die prooi word bepaal deur die grootte en ouderdom van die likkewaan. So sal jong likkewane van kleiner spesies insekte vreet.
Nel sê dat likkewane gewoonlik nie aggressief is nie, maar vermy beslis konfrontasie met die besoekers, want sodra hulle kos gekry het, beweeg hulle gewoonlik aan.

Bly weg van die skerp en stomp kant

Behalwe dat likkewane kan byt, slaan die stert soos ‘n sambok. Bly daarom maar weg van die skerp en die stomp kant van ‘n likkewaan, sê Nel.

Die likkewaan wat deur WeCare se Wynand Nel in Hickmanstraat gevang is.
Die likkewaan wat deur WeCare in Hickmanstraat gevang is.
Die likkewaan van nader gesien
Die likkewaan van nader gesien

Raad met likkewane

Sy raad is om sou ‘n likkewaan in jou huis kom, hom met ‘n besem te probeer uitstoot mits dit veilig is, of andersins ‘n groot kombers oor hom te gooi en aan die stert uit te vat. Probeer verkieslik om nie die likkewaan te hanteer nie, want hy’s beslis nie jou maat nie.

As likkewane bedreig voel, soek hulle skuiling, en as hulle nie kan wegkruip nie, suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in, meestal op die agterpote, en maak ‘n blaasgeluid.

Die vyand word dan met die stert, bek en kloue afgeweer.

Sou jy ‘n likkewaan in jou erf of huis hê kan jy Nel skakel vir raad of hulp by 082 629 1553.‘

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button