Verbruikers betaal uiteindelik ook die prys vir Bek-en-Kloukrisis, waarsku TLU SA
Die organisasie het gewaarsku dat die verbruiker uiteindelik ook die prys sal betaal vir die Bek-en-Klouseerkrisis.
Bek-en-klouseer het ontwikkel tot veel meer as ’n veeartsenykundige probleem. Dit is besig om ’n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se voedselsekerheid, landbou-ekonomie en landelike bestaansmiddele te word.
TLU SA het soos ander organisasies in die landboubedryf benadruk dat die kern van die krisis by ’n regulatoriese stelsel lê, en staatskapasiteit wat nie vir hierdie omstadighede aangepas is nie, en dringend reggestel moet word.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA wys daarop dat boere wettig verhinder word om vinnig op te tree, selfs in hoërisikogebiede waar uitbrekings reeds bevestig is.
“Boere dra die volle finansiële risiko van uitbrekings, kwarantyn en markverliese. Wanneer hulle egter nie toegelaat word om betyds en verantwoordelik op te tree nie, word nie net boerdery gestraf nie – die verbruiker betaal uiteindelik ook die prys.”
Van Zyl beklemtoon dat die privaat sektor oor bewese kundigheid en kapasiteit beskik wat onmiddellik ingespan kan word.
Hy sê voedselsekerheid kan nie wag vir burokratiese prosesse nie.
“Bek-en-klouseer raak ons almal. Indien Suid-Afrika ernstig is oor volhoubare landbou en bekostigbare kos, moet beleid die werklikheid begin weerspieël.”
TLU SA het ‘n beroep op sy lede gedoen om die nuwe BKS-raad ’n billike geleentheid te gee om die regulatoriese omgewing daadwerklik te hersien en praktiese oplossings te ontwikkel wat voorsiening maak vir die verantwoordelike, doelgerigte betrokkenheid van die privaat sektor in die hantering van uitbrekings.

Vrystaat Landbou (VL), saam met sleutelrolspelers in die landboubedryf waaronder die Suider-Afrika Agri-inisiatief (SAAI) en Sakeliga, het vroeër vandag aangekondig dat formele stappe deur hul regsverteenwoordigers geïnisieer is om die staat se monopolie oor die verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS)-entstowwe te verbreek.
Indien gunstige reaksie nie teen die sperdatum ontvang word nie, sal verdere regsoptrede oorweeg word, het VL Dinsdag in ‘n amptelike verklaring gesê.
Daar is ook benadruk dat die stap geneem is in belang van die bedryf, voedselsekerheid en die breër ekonomie.



