AfriForum kry nuwe datum vir sy hofstryd teen Ngwathe
AfriForum en die Ngwathe Munisipaliteit se hofstryd oor dienslewering sloer al sedert 2024.
Die burgerregte organisasie, AfriForum se dringende Artikel 18 (3) aansoek na die hoooggeregshof in Bloemfontein om ’n vroeëre uitspraak te laat implementeer om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas, hangende dié munisipaliteit se appèl daarteen, sal nou op 12 Februarie deur die hof gehoor word.
Die aansoek is in Oktober 2025 weens die omvang daarvan van die dringende hofrol verwyder.
Die uitgerekte hofstryd tussen AfriForum en Ngwathe het reeds in 2024 begin en het gelei tot die opspraakwekkende uitspraak van regter J.P Daffue in die Bloemfonteinse Hooggeregshof toe hy op 20 Junie 2025 met ’n gestruktureerde interdik beveel het dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.
Die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak is daarna eers in die hooggeregshof op 19 Augustus 2025 van die hand gewys en het ‘n petisie tot die Hoogste Hof van Appèl ook misluk.
AfriForum het derhalwe ’n dringende aansoek in terme van Artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 gebring om te vra dat regter Daffue se hofbevel intussen geïmplementeer kan word, terwyl Ngwathe hom nou wend tot die grondwetlike hof.



