Valke trek man vas ná vermeende transito-rowers leë hande moes vlug
Die arrestasie volg na 'n voorval wat in 2024 tussen Thaba Nchu en Bloemfontein gebeur het.
‘n 37-Jarige man wat verbind word met ‘n poging tot ‘n transito-roof in die Vrystaat, is Maandag in Manguang deur lede van die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoeke (SOCI), in samewerking met Misdaadintelligensie en die polisie se Taktiese Reaksiespan, gearresteer. Hy sal vandag voor die Botshabelo Landdroshof verskyn het Valke-woordvoerder adjudant-offisier Fikiswa Matoti gesê.
Matoti sê die beskuldigde word verbind met ’n voorval op 8 Augustus 2024 op die pad tussen Thaba Nchu en Bloemfontein. Na bewering het G4S-sekuriteitswagte op die dag van die voorval in ’n gepantserde voertuig van Thaba Nchu na Bloemfontein gereis toe hulle gekonfronteer is deur ’n groep gewapende verdagtes wat in drie voertuie gereis het — ’n blou Mercedes-Benz, ’n wit Mercedes-Benz en ’n wit Toyota dubbelkajuit bakkie.
Die verdagtes het na bewering skote in die rigting van die gepantserde voertuig afgevuur. Geen geld is gebuit nie, en die verdagtes het met leë hande van die toneel gevlug.



