Nog geen einde aan waterstryd in dele van Gauteng
Rand Water het reeds met die munisipaliteite waar waterverbruik buitengewoon hoog is, gesprekke gevoer en sê watervoorsiening na die areas sal verminder word om die watervoorsiening na geaffekteerde gebiede en in die hele grootmaat watervoorsieningstelsel te stabiliseer.
Rand Water het gewaarsku dat water spaarsaming gebruik moet word, en het hoë verbruik munisipaliteite sterk aangeraai om dringende waterbesparingsmaatreëls te implementeer om die stabiliteit van die watervoorsieningstelsel te beskerm.
Die watervoorsiener het vandag gesê hy bly bekommerd oor die voortdurende hoé waterverbruik in Gauteng – veral in Johannesburg en Tshwane. Die buitengewoon hoë waterverbruik wat die geallokeerde watervolumes oorskry plaas bykomende druk op die waternetwerk in geheel, het die waterverskaffer gesê.
Makenosi Maroo, woordvoerder van Rand Water sê die huidige vraag na water plaas ook nie net die bedryf van die watervoorsieningstelsel onder druk nie. Dit plaas ook druk op infrastruktuur om die hoë verbruikvlakke te moet hanteer, en affekteer watervoorsiening in dele van Rand Water se grootmaat watervoorsieningsarea.



