Local newsNews

Liefdesverhale – leer weer die emosie van die liefde verstaan – saam met haar

Met Valentynsdag om die draai gee skrywer Analize Viljoen perspektief oor liefdesverhale en die emosie daarin vervat.

Ek het lanklaas ‘n Romanza gelees, en nadat ek Dubbelspel vir haar hart gelees het, het ek myself voorgeneem om meer gereeld díe genre te lees. Ek vermoed dat hierdie lesersindruk gaan ontspoor, want ek dink al ‘n paar dae lank oor wat om te sê, en nou gaan dit meer oor Romanzas oor die algemeen as oor díe spesiefieke boek.

Hoewel die verhale gewoonlik sekere kenmerke en ‘n voorspelbare einde het, is dit nie sinnelose, soetsappige verhale sonder diepte nie. Mens kan romantiese liefdesverhale seker tel as ‘n subgenre van vrouefiksie, maar dit maak weer vir my ‘n ander blikkie wurms oop.

Emosie word wat my betref, te maklik afgemaak as iets waarin vrouens geinteresseerd is, en daarom moet dit minderwaardig wees. Dis mos nie “ernstige” stories oor die lewe nie.

Tog is daar ander emosies ook as liefde, hartseer en hartstog – soos woede, haat en wraaksug.

Waarom word boeke daaroor gesien as ernstig en realisties? Waarom is daardie emosies meer aanvaarbaar as liefde en alles wat vroulik en sag is? Waarom noem niemand die boeke wat daaroor handel, met so ‘n bietjie minagting, mannefiksie nie? So asof dit onnodig is om ‘n genre soos mannefiksie te hê, want almal weet mos mans stel belang in ernstige dinge, terwyl liefde en hartstog mens in ‘n suikerkoma gaan sit.

Dit alles terwyl dit ‘n bewese feit is dat vrouens meer lees as mans, en daarom meer bydra tot die publikasie besigheid. Ook dat lees altyd, en noodwendig, goed is vir die menslike verstand en dat vroue emosie oor die algemeen beter beskryf en verstaan, as mans. Nie net die sagte, pienk emosies nie, maar emosie oor die algemeen.

Liefde en gevoelens is volgens baie mense ooremosioneel en soetsappig. Totdat ‘n afgetrede vriend – ‘n man – met ‘n gebroke hart in die middel van die nag met jou wil praat omdat ‘n vrou vir wie hy liefgeraak het twee jaar na sy vrou dood is, hom bedrieg het. Of ‘n jong man in sy 20’s treur omdat die meisie wat hy gedink het dalk die één is, hom skielik begin ghost het. Of ‘n pa van twee klein kindertjies snikkend huil omdat hy besig is om te skei en nie weet hoe hy daardeur gaan leef nie.

Dan raak liefde en romanse en omgee en emosie werklik. Dit raak realisties en ernstig, want nou gebeur dit met ‘n man.
Mans “terg” baie keer dat hulle wens daar was ‘n handleiding oor vrouens. Dit laat my wonder wie sou kwalifiseer om so ‘n handleiding te skryf? ‘n Vrou omdat sy weet? Of ‘n man, sodat dit ernstig opgeneem kan word?

As daar so ‘n boek was, hoeveel mans sou dit lees en ter harte neem? Ek kan jou belowe, daar sou emosie in wees. Hoeveel mense sou dit net afmaak as sentimentele snert? Omdat mense – nie net vrouens nie, sentimenteel en emosioneel is, en dit sou genoem moes word in so ‘n handleiding.

Hoewel ek nou nie so ver sal gaan as om te sê dat romantiese liefdesverhale handleidings is oor vroue nie, is daar tog iets daaruit te leer. Want sien, in hierdie verhale vertel vrouens wat hulle van mans, en uit verhoudings wil hê, en dis nie net ‘n bos rooi rose en maanligsoene nie.

Kom ons kyk na Dubbelspel vir haar hart, maar mens kan dit deurtrek na ander romantiese liefdesverhale ook. Waarom val die meisie in hierdie verhaal vir die held? Ja, hy is ‘n aantreklike boer, en dit help sekerlik. Net soos dit help dat ‘n heldin waarvoor die held in ‘n aksiefilm val, beeldskoon is.

Dis egter nie al nie. Hy respekteer haar, vra haar mening, ondersteun haar sonder om oor te neem of te mansplain. Hy help met haar kind en met algemene take. Hy kom agter as sy moeg of “af” voel. Hy is goed vir haar, maar nie net dit nie – hy laat haar goed voel en hy voeg waarde toe tot haar lewe.

Alles terwyl hy ‘n man bly en nie die hele tyd oor gevoelens en pienk blomme wil praat nie.

Alles dinge wat abstrak kan klink, totdat mens dit in ‘n storie lees en verstaan hoe dit prakties lyk in ‘n gewone lewe. ‘n Lewe waar mense, nie net vroue nie, dinge soos liefde en omgee voel, uitspreek, en sien, en dis oukei. Dis die dinge wat maak dat die heldin vir die held val, en boonop by hom bly.

Dan is daar ook baie te sê oor hoe die boeke geskryf is. Die taalgebruik is van hoogstaande gehalte en baie liefdesverhaalskrywers het al meer as 50 boeke op hulle kerfstok.

Karakterisering is belangrik in liefdesverhale. Die karakters moet geloofwaardig en realisties wees, met ander woorde hulle kan nie perfek wees nie. Hulle het foute en soms jaag hulle aan, net soos regte mense.

Lapa Uitgewers publiseer vier Romanzas per maand, en elke een se karakters is uniek met hulle eie lewensverhaal, reaksies en detail. Boonop is liefdesverhale die brood-en-botter produk wat die publikasiebesigheid aan die gang hou, want dis die boeke wat die beste verkoop. Daar is juis goeie spesiale aanbiedinge vir Februarie.

Dis byna Valentynsdag. Lees ‘n liefdesverhaal! Koop vir die vrou in jou lewe een en lees dit saam met haar. Maak jou kop oop…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button