Man gevonnis ná slagoffer na vore kom na les in Lewensoriëntering-klas
Die man is naas die verkragting ook onder meer daaraan skuldig bevind dat hy homself aan 'n minderjarige ontlbloot het.
‘n Les in ‘n Lewensoriënteringklas het daartoe gelei dat ‘n 27-jarige man vandeesweek lewenslank tronk toe gestuur is vir die verkragting van ‘n 9-jarige slagoffer van Ladybrand.
Die arrestasie en suksesvolle vervolging het gevolg nadat die slagoffer se Lewensoriëntering onderwyser in 2023 as deel van ‘n Lewensoriëntering-les seksuele misbruik met die klas bespreek het. Die slagoffer het na afloop van die klas ‘n vriend en haar ma vertel dat haar neef dieselfde met haar gedoen het.
Die polisie se Familie, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredingseenheid in Ladybrand het onder leiding van speurder-sersant Olibile die saak ondersoek, en is die beskuldigde in die Bloemfonteinse Streekhof op vier klagtes van seksuele misbruik van ‘n minderjarige skuldig bevind.
Die slagoffer het getuig oor die herhaalde verkragting by verskeie geleenthede vanaf 3-jarige tot 9-jarige ouderdom.
Die hof het ook gehoor dat die beskuldigde hom ook aan ‘n ander kind ontbloot het.
Hy is deur die hof skuldig bevind op al vier klagtes. Vir die verkragting het hy ‘n lewenslange vonnis gekry, en drie jaar vir elk van die ander drie klagtes.



