Vredefort se mense maak reg vir Kruistog
Vanjaar word die Kruistog op Goeie Vrydag 3 April gehou.
Vir die volgende paar weke gaan daar ‘n gewerskaf van ‘n ander wêreld in dié klein Vrystaatse dorpie, Vredefort wees. Daar’s bome wat gesaag moet word, rommel wat weggery moet, gras wat gesny gaan word, sypaadjies wat mooi gemaak moet word, en die lys is nog baie langer.
Maar wat sit agter die operasie regruk? Net twee woorde – Die Kruistog – ‘n projek wat deur mense van Vredefort en die distrik vir die vyfde jaar agtereenvolgens aangepak word, om mense ‘n besondere Paasbelewenis te gee.
Elke jaar as die groep passievolle mense uit verskillende kerkagtergronde skouer aan die wiel sit vir die voorbereidings, neem die Kruistog sy eie karakter aan.
Vanjaar word die Kruistog op Goeie Vrydag 3 April van 10:30 tot 13:00 by Vredefort se sportgronde gehou.
Elke jaar word ‘n vlot vir die Kruistog gebou. Vanjaar se vlot stel ‘n oop Bybel voor wat aansluit by die teks uit Johannes 1:14,, en word daar reeds elke dag by die Dinamika-gemeente vanaf 09:00 gevou aan die duisende plastiekblomme wat nodig is vir die vlot. Daar sal ook ‘n replika van die oorspronklike grootte kruis gebou word.

Mense sal dan ook met kruise die 3km sirkelroete deur die dorp kan stap – ‘n Via Dolorosa in die hart van die Vredefort Koepel om die verlossingswerk van Christus aan die kruis te vier. Maar dit is ook ‘n onvergeetlike ervaring van sang, musiek, simboliek en kruis-dra.

Op 21 Maart sal daar kruise gebou word by Dinamika en elkeen is welkom om te kom help.
Op 28 Maart is dit die groot dorp skoonmaak voor die Kruistog.
As jy meer inligting wil hê of graag betrokke wil raak by die voorbereidings vir die Kruistog, kontak pastoor Juan Greeff by 079 874 1860.
Jy is welkom om gedurende die week saam te kom help vou aan die plastiekblomme, of deel te neem aan die skoonmaak van die dorp wat alreeds aan die gang is.
Vredefort nooi elkeen om te kom soos jy is, jou kruis op te neem, en iets te beleef van die kruisiging by die besondere Paasbelewenis in Vredefort.



