‘Ek is geseënd’, sê Sally Martin se Vi Malan op 102
Op 102 kan jy Vi Malan steeds deur 'n ring trek, en is sy baie geliefd onder die personeel en inwoners van Sally Martin Park.
Op 102 het Vi Malan, Sally Martin Park se oudste inwoner, geen pyn en geen klagtes nie. “Ek is geseënd,” sê sy. Haar oë helder en haar glimlag tevrede.
Waar sy Vrydag haar verjaardag saam met haar seun, Neil, en inwoners en personeel van Sally Martin Park gevier het, lyk sy nie ‘n dag ouer as ‘n jaar gelede.
Vir haar kan jy altyd deur ‘n ring trek – pynlik netjies en spesiaal uitgevat vir die groot dag met die verjaardagkroon op haar kop.

Oor die jare sedert sy en haar man in die tagtigerjare in Parys kom aftree het, het sy diep in die harte van inwoners en personeel van Sally Martin Park gekruip. Jy’t haar altyd besig gesien waar sy oral sou help, of deelneem aan die een of ander aktiwiteit.
Of daar Melodrama gehou is, of kaartjies verkoop moes word by die deur vir die tehuis se ‘Kindervreugde’ projek. Selfs in Sally Martin se biblioteek het sy haar kant gebring om boeke te pak, en het vir jare die pos as kassier van Die Houtlepel met groot toewyding beklee.
Wanneer dit verkiesingstyd was, was sy as DA-skakelbeampte die een wat gehelp het om bejaardes by die stembus te kry.
Sy is in 1924 as die jongste van vier kinders gebore. Haar ma was ‘n Suid-Afrikaner, terwyl haar pa in die 1890’s van Engeland na Suid-Afrika geëmigreer het. Sy het in Oos-London grootgeword.
Haar pa is oorlede toe sy nog baie jonk was, en het haar gehoorgestremde ma haar en haar twee susters en broer alleen grootgemaak.
Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, studeer sy onderwys en ontmoet die liefde van haar lewe in Queenstown waar albei skoolgehou het. Uit hul huwelik is twee seuns gebore – Rian en Neil.
In Julie 1993 koop sy en haar man een van die eerste huise by Sally Martin Park. Haar suster het Sally Martin, na wie die tehuis vernoem is, persoonlik geken, en het Vi later ook die voorreg gehad om Sally te ontmoet. Vir Vi is betroubaarheid en vriendskap belangrik, en is sy iemand wat veel eerder gee as om terug te verwag.
En geseënd is sy inderdaad – nie net om die rype ouderdom van 102 jaar Vrydag te kon vier nie, maar om gekoester te word deur die liefde van dié om haar.



