Hierdie Evas wys hul kreatiewe kant met epoksie-kuns
Doen jouself ‘n guns en sluit aan by dié gesellige groep. Vroeër vanjaar is mosaïekkuns reeds bemeester. Almal is welkom – oud of jonk, kunstig of nie – daar is plek vir jou by dié Evas.
Wat aanvanklik as ‘n lighartige gesprek oor ‘n koppie koffie na kerk begin het, het gelei tot ‘n gesellige
maandelikse samekoms van vroue in die NG Suid Kerksaal in Delverstraat. Gepas genoem – Die Evas.
Dié breinkind van Susan Brits, en hulle wat saam met haar die leiding neem, is ‘n poging om vroue van alle ouderdomme bymekaar te kry om vaardighede aan te leer, geïnspireer deur die Bybelse beginsel dat ouer vroue die jongeres moet leer. Dit het egter gou geblyk dat dit ‘n oor-en-weer leerdery sou wees, soos wat onlangs gesien is toe daar kreatiewe epoksie skeppings gemaak is onder Susan se leiding.



Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die heerlike saamkuierbederf en kreatief wees net tot 12:00 op die Saterdae wanneer daar bymekaar gekom word. Betyds om nog die res van die Saterdag tuis te geniet.
Elke saamkuier word afgesluit met tee, koffie en `n versnapering wat onderling tussen die vroue gereël word.
Om elke vrou die geleentheid te gee om deel te wees van die Evas, is bywoning van die Eva-oggende gratis. Benodigdhede vir wat gemaak word, word sover moontlik voorsien, en word daar met elke saamwees nuwe vaardighede geleer.
Jy kan ‘n WhatsApp stuur na Susan by 061 091 4609 om ingesluit te word by die Whatsapp-groep waar die program en datums vir die Eva-oggende deurgegee word.
Datums vir die jaar se saamkuiers is:
- 18 April
- 16 Mei
- 20 Junie
- 11 Julie
- 15 Augustus
- 19 September
- 17 Oktober
- 7 November
Van die interessante projekte wat vanjaar met die Evas se skep-en-stil-oggende gemaak sal word wanneer vrouehande kreatief raak en harte kan rus, is versierende Kersfeeskoekies en mooi strikkies, garingkuns, ‘n liggie met ‘n storie waar vroue hul eie lamp sal maak, verfkuns sonder kwas, die maak van ‘n sensoriese kombers en ‘n feesmaal en pretdag wat wag.


Elke klas word deur iemand anders aangebied om bymekaar op die manier vaardighede te leer. Naas geestelike padkos, word ook handige en praktiese wenke oor allerlei onderwerpe by elke klas gegee, soos hoe om ‘n muurprop te bedraad, of wat om te doen wanneer ‘n spinnekop jou byt, en meer.




