Parys se mense die verpersoonliking van plattelandse gasvryheid
"Min het ek geweet dat ek eintlik in ’n dorpie is wat soos “tuis” voel."
Ek is nie ’n inwoner van Parys nie, hoewel grootoupa en -ouma daar gewoon en begrawe is. Deur die jare heen het ek Parys al verskeie kere besoek, onder meer wanneer ons kamerkoor ons jaarlikse koorkamp op die oewers van die Vaal hou. Elke besoek was heerlik.
Hierdie keer was die geluk egter teen my. Net buite Sasolburg het ek ons nasionale padversiering getref (naamlik die slaggat) en twee bande verloor. Ek is van Pretoria; so, om weer te kan terugkeer Pretoria toe, moes ek planne maak om die motor op Parys te kry sodat ek die volgende week daarmee kon terugry huis toe.
Min het ek geweet dat ek eintlik in ’n dorpie is wat soos “tuis” voel.
Ek het heel eerste my goeie vriend in Parys (en, lyk dit my, almal se vriend) Hennie Smith van PG Glass gebel om te hoor of ek die motor iewers in Parys kon stoor totdat ek van die versekering gehoor het (ek het twee passasiers gehad en ons was al haas laat vir die koorkamp). Hennie het onmiddellik ’n plek gereël. Dankie, Hennie, ek waardeer al jou reëlings. Die versekering het egter laat weet ek moet die motor na Johnny’s Paneelkloppers laat sleep, waar die skade die komende Maandag eers geassesseer sou word. Dit was al donker toe ons daar aankom. Hoewel lank ná sluitingstyd het Hein Griesel die hek kom oopsluit sodat die motor darem veilig kon wees. Hy was vriendelik, behulpsaam en het glad nie omgegee om te kom oopsluit nie. Ek kon die heel naweek deur rustig slaap in die wete dat my motor veilig is. Dankie, Hein.

Sondagmiddag verdaag die koorkamp en my passasiers is saam met ander mense terug Pretoria toe. ’n Vinnige soektog het my by Abelia Gastehuis uitgebring, waar die vriendelike (en hoogs interessante mens) Roger my met ’n glimlag ontmoet het. Wat ’n lieflike plekkie is dit nie! Ná ’n heerlike nag se rus was ek gereed vir die administrasie wat voorgelê het (ons het toe nog nie geweet wat die skade alles behels het nie). Ek was op die punt om ’n huurmotor te bestel toe Roger my vriendelik dog ferm inlig dat hy my sommer sal gaan afgooi. Dankie hiervoor, Roger, en vir jou gasvryheid. (Ek gaan ook nog kom steggies by jou haal, want jou tuin is ’n paradys.)
By Johnny’s aangekom, kon min dinge my voorberei het op die hartlike ontvangs daar. Ek het gevoel of ek by familie inloer. Ek het skaars gesit toe Marelo Griesel my ’n warm koppie cappuccino in die hand stop en tydskrifte langs my neersit om te lees. Ek het net lekker nes geskrop toe Jonty Griesel die goeie nuus met my deel: Dit is slegs die bande wat seergekry het, en kan hy my gou vat om die bande te gaan koop? Ek was heeltemal oorbluf – deur die goeie nuus, maar ook oor die aanbod. Want hoe sukkel mens nou met twee vellings sonder ’n motor?
Die wêreld is klein. Dit het ek geleer toe ek by Dunlop Tyres aankom en die vriendelike Pieter Reynecke agter die toonbank ontmoet. Hy het gesorg dat die nuwe bande blitsvinnig op die vellings gesit en gebalanseer is. Daar kom ons toe agter dat en en sy suster Ester by dieselfde maatskappy werk!
Terug Johnny’s toe om die wiele op te sit, en skaars ’n halfuur later is my motor weer padwaardig. Die pad huis toe het voorgelê en dit was met ’n warm hart wat ek deur Parys se strate tot op die hoofpad gery het. Wat as ’n onaangename naweek begin het, het uiteindelik ’n heerlike herinnering aan die gasvryheid en vriendelikheid van plattelandse dorpies geword. Dankie, Hennie, Roger, Hein, Marelo en Jonty, en Pieter – julle sal altyd ’n plek in my dankbare hart hê.



