Mans vasgetrek toe hul ietermagog probeer verkoop
Die vier verdagtes is tussen die ouderdomme van 47 en 62 jaar.
Vier verdagtes het hulle vasgeloop in die gereg nadat hulle probeer het om ‘n ietermagog vir R80 000 te verkoop. Die mans het Vrydag 5 Junie in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde oortredings van die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet 10 van 2004 en die Dierebeskermingswet 71 van 1962.

Volgens luitenant-kolonel Zweli Mohobele het lede van die Valke se Eenheid vir Ondersoek na Ernstige Georganiseerde Misdaad en die Welkom Anti-Bende-eenheid die verdagtes wat met ‘n blou Toyota Quest gery het, op heterdaad betrap toe hulle probeer het om die ietermagog te verkoop. Met die mans se arrestasie is die dier vir die veilige bewaring van die betrokke owerhede oorhandig.
Die Vrystaatse Hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), Mokgadi Bokaba, het die beamptes geloof vir hul vinnig optrede, en vir hul rol om te verseker dat bedreigde spesies nie totale uitwissing in die gesig staar nie.



