Local newsNews

Beseerde uile kry sorg by Parys WADER

Vlei-uile se voortbestaan word deur verskeie faktore bedreig. Daarom was dit van kardinale belang om hom te red

Parys Wetland Avian Development and Emergency Rescue NPC (Parys WADER) het tans twee uile in hul sorg. ‘n Gevlekte Oor-uil is op 7 April ingeneem met ‘n gebreekte vlerk, terwyl die Vlei-uil op 12 April ingeneem is nadat dit vir ‘n onbekende tydperk in ‘n heining op ‘n plaas in die Fochville-omgewing verstengel was. Beide uile se beserings was krities.

Gevlekte Ooruil


Die Gevlekte Ooruil het op 8 April in Kroonstad chirugie ondergaan waar dr Willem Daffue verbrokkelde been verwyder het. Die uil se beserings was van so aard dat die breuk nie chirurgies geheg kon word nie. Hy moes in Kroonstad agterbly sodat die veeartsenykundige personeel kon monitor of die bene met tyd sal heg.


Volgens Marisa Louw van Parys WADER is hulle verheug dat dit positief lyk vir volkome herstel. “Omdat ons verkies om ‘n voël vry te laat in die omgewing waarin dit gevind is, het ons die uil op 14 Mei in Kroonstad gaan haal. Ons sal vir die volgende paar weke voortgaan met sy rehabilitasie wat vlug-kondisionering insluit,” het Louw vertel.


Louw sê vlug-kondisionering word gedoen in samewerking met ‘n plaaslike Meester Falkonier. Sodra die falkonier tevrede is dat die uil sterk vlieg en suksesvol jag, sal hy weer in die Rooidam-omgewing vrygelaat word.

Vlei-uil


“Vlei-uile se voortbestaan word deur verskeie faktore bedreig. Daarom was dit van kardinale belang om hom te red,” verduidelik Marisa.


Die plaaswerkers wat hom van die heining losgekry het, het ongelukkig meeste van die spier op sy een vlerk saam met die draad afgeskeur.

Die vlei-uil waarvan een vlerk geamputeer moes word nadat dit in 'n draad verstrengel was. Foto: Verskaf
Die vlei-uil waarvan een vlerk geamputeer moes word nadat dit in ‘n draad verstrengel was. Foto: Verskaf


Dr Brigitta Wessels van Parys het die oorblywende weefsel om die been vasgewerk. Na afloop van drie weke se wondversorging was dit duidelik dat die vlerk nie gaan herstel nie. “Onder gewone omstandighede word ‘n dier wat nie vrygelaat kan word nie, op menslike wyse van kant gemaak, maar omdat die Vlei-uil se voortbestaan bedreig word, is daar deur ‘n rehabilitasienetwerk daarin geslaag om ‘n broeiprogram in KwaZulu-Natal op te spoor waar die uil geakkommodeer kan word.


Die beseerde vlerk moes geamputeer word en kon die uil in die sorg van Parys WADER aansterk.
Sodra al die nodige in- en uitvoerpermitte tussen die twee provinsies uitgereik is, sal die Vlei-uil by ander van sy spesie aansluit, waar hy hopelik ‘n volgehoue bydrae kan lewer tot die Vlei-uil se voortbestaan in Suid Afrika.


Dit kos ongeveer R150 per dag vir die intensiewe versorging van een uil na chirurgie. “Die koste vir gewone rehabilitasie van een uil kos R85 per dag,” sê Louw.


Parys WADER vervul ‘n belangrike rol in die gemeenskap:


Rehabilitasie vorm slegs 25% van die belangrike rol wat Parys WADER vervul, verduidelik Louw. Die belangrikste taak van die nie-wingewende organisasie is opvoeding, naas omgewingsbewaring en die operasionele bedryf van die rehabilitasiesentrum.


Parys WADER het drie nie-uitvoerende direkteure by name Sampie van der Merwe, Ernest Mhlongo en Galeboe Modisapodi.


Parys WADER beskik oor ‘n DESTEA Wildlewe-permit, en rekord word gehou van elke dier wat by die rehabilitasiesentrum ingeneem word.


Hoewel dit ‘n wildlewe, redding en rehabilitasie sentrum is, word hoofsaaklik gefokus op voëls.

Parys WADER se interne mandaat is die vleiland, en is hul spesifiek gemagtig om voëls met ‘n waterafhanklike habitat te kan inneem.


Die organisasie lewer ‘n diens in die Fezile Dabi-distrik, maar ook oor die hele Noord-Vrystaat, en het vanjaar meestal gehelp met uile wat raakgery of in drade verstrengel geraak het.

Bewusmaking is belangrik


Dit is juis hier waar Parys WADER ‘n belangrike rol speel ten opsigte van bewusmaking en inligting by veral gastehuise, oorde, kontrakteurs en boere wat dikwels die eerste is om ‘n beseerde voël te kry. As werknemers ingelig is oor wat die regte stappe is om te volg, is die kans vir oorlewing van die diere wat gevind word beter, verduidelik Louw.


Parys WADER het in die verlede ook al hulp verleen met likkewane en bobbejane, maar hoewel dikwels ondersteuning en raad gegee word, word nie alle diere noodwendig ingeneem nie.

Befondsing ‘n groot uitdaging


Daar word nou saamgewerk met plaaslike veeartse om in die beste belang van die diere te kan optree.
Befondsing vir die bedryf van Parys WADER bly egter ‘n groot uitdaging So ook vrywillige hande wat bereid is om te help by die sentrum.


Die sentrum is in 2025 begin en het sy permit in April vanjaar ontvang. Sedert die stigting van Parys Wader is 90 diere uit 39 spesies al ingeneem. Tans is daar sewe voëls by die sentrum waaronder die uile, ganse, ‘n hadeda, blouvalk en kleinrietreier wat volgens SABAP2 data die eerste keer in 10 jaar in die omgewing aangeteken is.


Hoe kan jy betrokke raak:


Daar is ‘n skare finansiering inisiatief begin om die rehabilitasiesentrum terrein te ontwikkel. Jy kan ook vir Louw skakel by 064 963 5386 en aansluit by die Parys WADER WhatsApp-kanaal. E-pos kan gestuur word na wader@parys.co.za | marisa.wader@parys.co.za

Skandeer die QR-kode as jy wil bydra tot die BackaBuddy befondsing
Skandeer die QR-kode as jy wil bydra tot die BackaBuddy befondsing

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button