Local newsNews

Baberspan se natuurwonder met voëlklublede gedeel

In die beginjare was Baberspan 'n besige navorsingstasie waar duisende voëls gesien en bestudeer is.

Sampie van der Merwe het verlede week sy passie vir natuurbewaring met lede van die Feathers voëlklub in Parys kom deel uit sy jarelange betrokkenheid as natuurbewaarder by die Baberspan Natuurreservaat.
Hy was aanvanklik wetstoepassingsbeampte in Marble Hall, Ermelo en toe Rustenburg voordat hy in die winter van 1999 na die Baberspan Provinsiale Natuurreservaat verplaas is.

Sampie van der Merwe tydens sy praatjie by die maandelikse byeenkoms van Feathers-voëlklub.
Sampie van der Merwe tydens sy praatjie by die maandelikse byeenkoms van Feathers-voëlklub. Foto: Liezl Scheepers


Die reservaat met sy varswatermeer omring deur graslande, is in die Noordwes-provinsie tussen Delareyville en Sannieshof aan die N14-hoofpad geleë. Navorsing by Baberspan het teen ongeveer 1954 begin. Toe is daar net 100 hektaar van die grond aan die noordekant van Baberspan uitgekoop vir die bou van ‘n navorsingstasie.

Baberspan se mooi. Foto verskaf deur Melanie Basson.
Baberspan se mooi. Foto verskaf deur Melanie Basson.

Ramsar-vleilandgebied

In 1975 is die hele gebied om Barberspan tot Ramsar-vleilandgebied verklaar.
In die sewentigerjare is die res van die plaas/grond om Baberspan ook deur die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie uitgekoop of onteien om die volle gebied om Baberspan en die wateroppervlak tot provinsiale natuurreservaat te verklaar.


In die beginjare was dit ‘n besige navorsingstasie met ‘n ryk geskiedenis, wat ‘n skuiling en broeiplek geword het vir migrerende en inheemse voëls. “Tot 40 000 voëls van ongeveer 190 spesies is destyds per jaar by die pan waargeneem en gering, insluitend flaminke,” het Sampie vertel. Hoewel baie verwaarloos toe hy by die reservaat begin werk het, het die reservaat diep onder sy vel ingekruip.
“Baberspan groei op ‘n mens,” het hy gesê.


Die pan se water kom deur ‘n kanaal vanaf die Hartsrivier. Onder natuurlike omstandighede het die pan water gekry van die normale afloop van die oppervlakte water, wat in die toe ‘normale soutpan’ ingevloei het.
Die ‘natuurlike soutpan’ het dan periodiek water gehad, totdat die loop van die Hartsrivier in Baberspan herlei is deur ‘n sloot wat vanaf die loop van die rivier gemaak is.


Die hele natuurreservaat is 3 118 ha groot, maar die meer beslaan 2 000 ha en is tot 12 m diep as dit vol is.


Voëlparadys

Omdat daar reg deur die jaar ‘n groot verskeidenheid voëls voorgekom het, is daar oor die jare duisende voëls gering en bestudeer, maar het dit nie meer gebeur vandat hy na die reservaat verplaas is nie, grotendeels weens gebrek aan fondse wat ook tot agteruitgang van die reservaat oor jare gelei het.


Sy verplasing na Baberspan was egter die begin van Sampie se passie vir voëllewe, hoewel hy grotendeels gemoeid was met bestuur en administratiewe take.


Joël Avni het as mentor by Baberspan ‘n groot impak op hom gehad en onthou hy steeds Avni se woorde – The birds don’t read the book – waneer hy ‘n voël sou teëkom wat nie eie aan die gebied was nie.
Avni het ook Baberspan as ‘n magical place beskryf.


Navorsing

Sampie het in sy vertelling uitgebrei ook die waardevolle navorsing wat oor jare by Baberspan gedoen is, onder meer deur Eskom om oplossings te vind vir die flaminke wat in oorhoofse kragdrade vasvlieg, en later ook ondersoeke wat gedoen is rondom die negatiewe effek van besoedeling, wat ook by Baberspan problematies geword het.

Vandag is die reservaat meerendeels by hengelaars gewild. Sampie het hom in 2025 na sy aftrede in Parys kom vestig. Sy loopbaan in natuurbewaring het oor 27 jaar gestrek, en is hy een van die nie-uitvoerende direksielede van Parys WADER.


Feathers se volgende byeenkoms is op 25 Junie. Geen uitstappies is vir Junie en Julie beplan nie, en sal uitstappies hervat in die warmer maande.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button