’n Klerksdorpse vrou wie se identiteit nog nie deur die polisie vasgestel kon word nie, is Vrydag 5 Junie in die vroeë oggendure deur honde in Magaretha Prinsloo-straat, verskeur.
’n Man van ’n nabygeleë woning het haar liggaam vanoggend om 05:45 gesien op pad werk toe. Hy het die polisie ontbied waarna nooddienste die vrou op die toneel dood verklaar het.
Die vrou het verskeie wonde oor haar liggaam gehad.
Die omstandighede rondom die voorval is steeds onduidelik omdat geen ooggetuies nog na vore gekom het nie, sê polisiewoordvoerder kolonel Adéle Myburgh.
Agt honde wat by ’n nabygeleë woning aangetref is, is in die sorg van die DBV geneem.
Die diere is intussen van kant gemaak.
’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en die ondersoek duur voort, het Myburg gesê.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met hul ondersoek, of kan bydra tot die identifisering van die oorledene, word gevra om die bevelvoerder van die speurtak in Klerksdorp, kol. JC Scholtz, by 082 578 0187, of die naaste polisiekantoor te kontak. Inligting kan ook anoniem deurgegee word via Crime Stop by 08600 10111 of deur die MySAPS-toepassing te gebruik.



