Local newsNews

Polisiebeampte met kriminele rekord, en ses ander in hof ná roof by Shoprite

Die polisie soek steeds na drie verdagtes wat ook met die roof verbind word.

Sewe verdagtes, onder wie ook ‘n 43-jarige polisiebeampte, het vandag in Ladybrand voor die hof verskyn in verband met ‘n gewapende roof by die dorp se Shoprite op 9 April.

Die polisiebeampte, Thabiso Motja asook Lefu Jonas Monyane (45), Matseko Maketha (31), en vier van die kettingwinkel-werknemers, Matshidiso Maseloa (50), Anny Meshake (37), Maki Maribe (37) en Palesa Malokase (41) staan tereg op klagte van gewapende roof. Hulle moet weer op 20 April in die hof wees vir formele borgaansoek.

Daar word steeds gesoek na nog drie verdagtes wat ook by die roof betrokke was.

Polisiewoordvoerder sersant Mahlomola Kareli sê voorlopige verslae dui daarop dat twee onbekende mans die winkel binnegegaan en die takbestuurder genader het.

Een was geklee in ’n reflekterende polisie-baadjie, terwyl die ander ’n dossieromslag by hom gehad het. Hulle het onder die voorwendsel dat hulle glo ‘n aanrandingsaak ondersoek, toegang tot die winkelbestuurder se kantoor gekry om kwansuis na sekuriteitskamera beeldmateriaal te kyk.

Terwyl hulle in die kantoor was, het hulle die winkelbestuurder met ’n vuurwapen teen die nek geslaan, en ‘n klerk gedwing om die kluis oop te maak. Die verdagtes het met groot plastieksakke, wat ’n onbekende maar aansienlike bedrag kontant en verskeie selfone bevat het, van die toneel gevlug.

’n Enkele skoot is buite die perseel gehoor terwyl die verdagtes gevlug het. Niemand is egter beseer nie.

Na vinnige taktiese reaksie deur die Ladybrand SAPD en K9-eenheid, is ’n wit Volkswagen Polo wat as wegkomvoertuig gebruik is, verlate in een van die strate in die dorp gevind. By nadere ondersoek is vasgestel dat die voertuig se registrasienommers nie met die lisensieskyf ooreengestem het nie.

Die SAPD-lid, wat tydens die ondersoek gearresteer is, was gestasioneer by ‘n Vrystaatse polisiestasie en het ’n kriminele rekord. Hy is voorheen vir ontvoering en afpersing in hegtenis geneem.

Die saak is amptelik oorgedra aan die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, moord en roof vir gespesialiseerde ondersoek.

Die polisie het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat inligting het oor die verdagtes na wie steeds gesoek word, om speurder Ntingi Mshumpela te kontak by 076 423 5295, of die Misdaadstopnommer 08600 10111 te skakel, of ’n anonieme wenk via die MySAPS-toepassing in te dien. Inligting sal vertroulik hanteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button