Parys bult vanaand spiere teen Bultfontein
Beide Parys se rugby- en netbalspanne sal vanaand hier in aksie gesien kan word.
‘n Taai stryd wag vanaand op Parys-rugbyklub wanneer die tuisspan verlede jaar se ligawenner, Bultfontein, die stryd aansê.
Die wedstryd skop af om 20:00 op Hoërskool Parys se rugbyveld.
Parys se netbalspan sal ook vanaand om 19:45 op die hoërskool netbalbane in aksie wees. Ondersteuners is welkom om gasbraaiers en koelbokse te bring, en beide die rugby- en netbalspelers te kom ondersteun.
Parys het verlede week alle hoop op ‘n oorwinning vir Hoopstad verpletter. Met drieë deur Marx Steenkamp, Nic Greyling, Tyler Woodruff, Robbie Petzer, JM du Plooy en JC Brazao, en vier doelskoppe wat Gerhard Greyling oor die pale kon sit, het die tuisspan die oorwinning vir Parys op sy tuisveld beklink met ‘n eindelling van 38-12.

Spelers van die wedstryd was Nic Greyling en Kaleb Kriek (voorspelers) en Gerhard Greyling en Tyler Woodruff (agterspelers).

Na vanaand se wedstryd bly daar nog net die wedstryd teen Hennenman oor voor die semi-finale stryd. Parys is tans tweede op die punteranglys.



