BKS: Hooggeregshof dwing aksie af
Vrystaat Landbou sê hy bly egter verbind tot samewerking met die provinsiale departement van landbou.
Vrystaat Landbou (VL) sê hy is teleurgesteld en gefrustreerd oor die jongste verwikkelinge in die voortslepende bek-en-klouseer (BKS)-hofsaak. Die hooggeregshof in Pretoria het vandeesweek gelas dat die lank uitgestelde Artikel 10-inentingskema teen 5 Mei vanjaar gefinaliseer en gepubliseer moet word, met die saak wat op 11 Mei vir argumente ter sprake gestel word.
As ‘n duidelike aanduiding van sy ontevredenheid het die hof ook ‘n strafkostebevel teen die respondente toegestaan.
Die verwikkelinge vorm deel van ‘n voortgesette dringende aansoek wat deur VL, Sakeliga en SAAI ingedien is om wat die organisasie beskryf as die staat se obstruksie van die privaatsektor se deelname aan die verkryging en toediening van BKS-entstowwe, te betwis.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou sê die gebrek aan dringendheid en stadige reaksie deur die departement kos boere miljoene! Wilken sê verder dat die jongste uitspraak ‘n patroon volg van gemiste sperdatums en verskuiwende standpunte deur die minister van landbou.
Die organisasie het ook sy siening herhaal dat daar geen regsbasis is om te verhoed dat die privaatsektor ‘n betekenisvolle rol in BKS-inenting speel nie. Die werklikheid is dat boere die koste van oneffektiwiteit dra.
Elke vertraging verhoog risiko, verliese en onsekerheid oor die sektor,” het die organisasie gesê.
Wilken sê die organisasie bly egter verbind tot samewerking met die provinsiale Departement van Landbou, wat die provinsiale inentingsprogram dryf ten spyte van beperkte hulpbronne.



