Vrede van Vereeniging – daar word onthou met dié toer
Die toer begin die oggend om 08:00 met 'n kranslegging by die Vryheidsmonument in Vereeniging.
Ons onthou die Vrede van Vereeniging vandag nie net as ’n dokument nie, maar as ’n keerpunt in die geskiedenis. Ons onthou die ondertekenaars. Die onbekende vrou met ’n sterwende kind in haar arms in die kamp. Die oupa wat sy seun moes begrawe en die terugkeer na afgebrande en verwoeste plase.
’n Dag van samesyn en herinnering word jaarliks gehou op 31 Mei met ’n toer om die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902) te herdenk! Vanjaar is geen uitsondering wanneer die herdenking gehou word saam met die FAK en Sentraal Vaal Kultuursake.
Die eerste kranslegging begin om 08:00 by die Vryheidsmonument in Vereeniging.
Daarna volg kransleggings by sewe/agt ander geskiedkundige gedenkwaardighede op die pad na Pretoria.

Die Sentraal, Vaal Kultuurgroepe verwelkom almal by die eerste paar stopplekke tot by Die Blokhuis.
Na die Blokhuis lei Erfenisstigting en FAK die toergroep na die volgende besoekpunte.
Die Vredestoer eindig om 16:00 op die trappe van die Voortrekkermonument in Pretoria, waarna ’n lafenis bedien sal word by die FAK Afrikaanse Liedjietuin.
Daar kan op enige plek langs die roete by die groep aangesluit word aangesien almal hierdie jaar van eie vervoer gebruik maak.
Bring ‘n blom of krans saam indien jy wil deelneem aan die kransleggings.



