Harte oop vir DBV se wiele-nood
Parys DBV het dringend 'n voertuig nodig dat die tak se enigste voertuig gesteel is.
Nie eens die winterkoue kon gholfspelers wie se harte warm klop vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se nood, weghou van die baan toe daar afgeslaan is vir die jaarlikse gholfdag ten bate van Parys DBV. ‘n Rekordgetal inskrywings is ontvang en mense se harte was oop om te gee.
Die hoogtepunt van die dag was ‘n veiling met bokslegende Brian Mitchell, wat verskeie sport memorabilia opgeveil het. ‘n Persentasie van die wins van die veiling was ook ten bate van die DBV.
Dankie aan elkeen wat die dag ondersteun en bygedra het om van dit so ‘n groot sukses te kon maak.

Die DBV samel tans geld in om ‘n voertuig te kan koop nadat die DBV se enigste voertuig in April tydens ‘n inbraak op die DBV-perseel gesteel is. Sedertdien is dit ‘n groot uitdaging vir die DBV om die gemeenskappe van Parys, Vredefort, Heilbron en Koppies te bedien sonder ‘n voertuig.
‘n Skare finansieringsveldtog (BackaBuddy) is ook intussen vir die DBV begin om te help om fondse bymekaar te maak vir ‘n voertuig.

Dankie ook aan Parys Bande point-S wat verlede week 4 021,5kg se honde- en katkos aan die plaaslike DBV oorhandig het, en elkeen wat bygedra het tot hierdie groot gemeenskapsprojek.




