Voetslaan op die Camino-voetpad deur Koepel se mooi
Die eerste pelgrimstog deur die Vredefortkoepel-bewaringsgebied is vandeesweek gehou.
Omsoom deur die ongerepte natuurskoon van die Vredefortkoepel met sy merkwaardige geologiese erfenis, kronkel die 80 tot 100 km-pelgrimstogroete deur die hart van die wêreld se oudste en duidelik sigbaarste meteorietkrater.
As jy hier jou tekkies aantrek vir vyf dae se stap, haal jy diep asem in die stilte wat jou siel verkwik. Die eerste pelgrimstog deur die Vredefortkoepel-bewaringsgebied is vandeesweek gehou.
Benewens die wild- en natuurlewe, geologiese terreine, historiese landmerke, die Vaalrivier en die berglandskap, het stappers ook die sterrehemel op sy mooiste beleef.

Anna-Marie Ferreira van Parys, Amanda Kense van Devon, Lucille Coetzer van Klerksdorp en Andrie Groothof van Warmbad is die dapper stappers wat die volle 80-plus kilometer aangedurf het, terwyl ‘n paar plaaslike stappers sommer vir die lekkerte ‘n paar dae saamgestap het.

Maandag het professor Graeme Addison die groep op ‘n kort staptog na Leeukop Quarry geneem, waar hy sy kennis oor die ontstaan van die Vredefortkoepel met die stappers gedeel het. Die dag is afgesluit by Wild Olive Guest House met ‘n skemerkelkie-bederf.

Dinsdagaand is daar by Paradyskloof oorgeslaap, en Woensdagaand by Sunnyside River Lodge. Die laaste aand word by Tswane Buschcamp deurgebring.

Die roete sluit ook ‘n gedeelte in waar stappers op die Vaalrivier roei.

Tien Caminos sal deur die jaar aangebied word, met die uitsondering van Julie en Desember, sê Sanci Cilliers, wat gehelp het om die Camino-inisiatief vir die Koepel te dryf. Belangstellende kan Parys Info & Toerism by 056 811 4000 skakel, of die webwerf besoek: https://parysinfoandtourism.co.za/crater-camino/






