Plaaseienaar beboet ná inhegtenisname van 23 ongedokumenteerde immigrante
Die 23 wat gearresteer is, sal Maandag, 29 Junie in die Ganyesa-landdroshof verskyn.
23 Vermeende ongedokumenteerde immigrante is Saterdag deur die polisie in die Vorstershoop-gebied in Noordwes gearresteer. Die intelligensiegedrewe operasie het ook daartoe gelei dat ‘n plaaseienaar ‘n skulderkenningsboete van R250 000 opgelê is omdat hy na bewering ongedokumenteerde buitelandse burgers in diens gehad het.
Tydens die operasie het die polisie ‘n wit Isuzu-vragmotor en ‘n wit Toyota Land Cruiser enkelkajuit op die R379-grondpad voorgekeer. Verskeie insittendes het na nabygeleë plase gevlug, terwyl die bestuurder en die plaaseienaar voorgekeer is.
Volgens kolonel Anne Magakoe het die polisie die plaaseienaar versoek om die individue te kontak, waarna hulle vrywillig teruggekeer het sodat hul dokumentasie geverifieer kon word. Verdere ondersoeke, wat in samewerking met Departement van Binnelandse Sake in Ganyesa gedoen is, het bevestig dat hul dokumentasie verval het. of ongeldig was.
Die verdagtes is tussen 21 en 49 jaar oud en sal na verwagting Maandag, 29 Junie in die Ganyesa-landdroshof verskyn.
Die waarnemende provinsiale Kommissaris, generaal-majoor (dr.) Ryno Naidoo, het gesê die SAPD bly daartoe verbind om immigrasiewette toe te pas en nakoming van Suid-Afrikaanse wetgewing te verseker.



